Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tesourie moet nou met Sassa help

Die nasionale tesourie moet ingryp in die jongste verwikkeling rondom die betaling van maatskaplike toelaes deur die agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa).

Bridget Masango, DA-LP, se jongste beroep op ingryping kom nadat Susan Shabangu, minister van maatskaplike ontwikkeling, pogings deur die agentskap opgeskort het om ’n nuwe diensverskaffer vir die kontantuitbetalings van die maatskaplike toelaes te vind.

Die minister het verlede week stukke by die konstitusionele hof ingedien om die hof in te lig dat sy die drastiese besluit geneem het. Sy het in hofstukke aangedui dat die tenderproses tegnies gebrekkig was en die proses weer oor moes begin.

Masango wat met kommer kennis geneem het van die stap, het in ’n verklaring gesê die departement van maatskaplike ontwikkeling het lank genoeg begunstigdes van maatskaplike toelaes aan ’n lyntjie gehou. Sy sê die jongste besluit deur die minister volg op die “rampspoedige termyn” van die voormalige minister, Bathabile Dlamini, wat volgens haar “eiehandig op meer as een geleentheid die konstitusionele hof gedwing het om die onwettige kontrak van Cash Paymaster Services (CPS) te verleng”.

Die konstitusionele hof het aanvanklik gelas dat ’n nuwe diensverskaffer teen 1 April aangestel moet word om die toelaes uit te betaal. Die Poskantoor is veronderstel om die meeste van die uitbetalings oor te neem, met CPS wat die kontantuitbetalings sal hanteer totdat daar ’n nuwe diensverskaffer aangestel is.

Masango sê die nasionale tesourie moet ingryp voordat daar nóg ’n sperdatum misgeloop word en 'die konstitusionele hof weer eens die onwettige en twyfelagtige CPS-kontrak moet verleng'.

Dié nuwe diensverskaffer moet nou teen September 2018 aangestel word.

Volgens Masango is die verwoesting en chaos in die departement bo Shabangu se vuurmaakplek.

“Die jongste verwikkeling sal waarskynlik lei tot die vertraging in die aanstel van ’n nuwe operasionele kontantvoorsiener teen September 2018.”

Masango sê dit is “ondenkbaar” dat ’n departement wat nie eens behoorlike tenderdokumente kan opstel nie, moet verseker dat 17 miljoen mense maandeliks hul maatskaplike toelaes ontvang.

“Dit is duidelik die minister van maatskaplike ontwikkeling het, soos haar voorganger, geen respek vir die hoogste hof in die land nie en sy en haar departement kan nie die verkrygingsproses doeltreffend bestuur nie. Ons herhaal dus ons beroep op die nasionale tesourie om die betaalfunksie by Sassa oor te neem omdat die agentskap gekompromitteer geword het onder die toksiese beheer van die ANC.”

Masango sê die nasionale tesourie moet ingryp voordat daar nóg ’n sperdatum misgeloop word en “die konstitusionele hof weer eens die onwettige en twyfelagtige CPS-kontrak moet verleng.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.