Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tesourie swyg oor Tito se kriptiese twiet

Die nasionale tesourie het Vrydag ná ’n kriptiese twiet deur Tito Mboweni, minister van finansies, geswyg.

Mboweni, wat bekend is vir sy entoesiastiese deelname aan sosiale media, het die Twitterati Vrydagmiddag laat gons toe hy getwiet het: “Politiek en langlewendheid. Politieke geskiedenis wys dit is sleg om jou tyd in ’n amp te oorskry. Anders as koninklikes mag jy op ’n onwaardige manier uitgeskop word. Dit is goed om met waardigheid af te tree.”

’n Stortvloed reaksies, positief en negatief, het hierop gevolg. Talle wou by hom weet of hy as minister die handdoek gaan ingooi. Ander het daarop gewys dat hy reeds ná sy aftrede na die kabinet teruggekeer het, terwyl nog een gevra het dat hy net gaan en Jamnadas (Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings) saamvat.

Sommige het gevra dat hy nie bedank nie omdat Suid-Afrika die moeite werd is om te red.

Nóg een het opgemerk dat Thuma Mina (pres. Cyril Ramaphosa) uiteindelik besig is om die kabinet te skommel, terwyl ander in die lig van Mboweni se omstrede twiet vroeër vandeesweek oor die Reserwebank oor ’n ander moontlike afdanking bespiegel het.

’n Woordvoerder van die nasionale tesourie het egter Vrydag by navraag gesê “daar is geen kommentaar verder as die twiet nie”.

Dit kom nadat die ANC Mboweni vroeër vandeesweek oor die kole gehaal het nadat hy in ’n reeks twiets gevra het wat die regerende party met die nasionalisering van die Reserwebank wil bereik.

“Moenie my vertel van interne debatte, nasionale uitvoerende konferensies, ensovoorts, nie. Wat wil julle bereik? Laat ons dié fundamentele vraag beantwoord,” het een van sy twiets gelui.

Die ANC het in reaksie sterk uitgevaar teen dié uitsprake en gesê sulke debatte in die openbaar dra tot die “narratief van ’n gebrek aan beleidsekerheid” by.

Volgens die ANC moet senior leiers soos Mboweni hulle hou by die besluite wat die party op openbare platforms geneem het. Die party meen alle ANC-leiers wat in die openbaar die wysheid van die besluite van ’n nasionale konferensie bevraagteken, verwarring binne en buite die organisasie skep.

Mboweni het kort ná die ANC se verklaring Woensdag getwiet dat ’n verandering van ingesteldheid die sleutel is om vorentoe te beweeg. “Teenstrydigheid is goed om dialekties in die samelewing en organisasies vorentoe te beweeg. Bewegingloosheid is swak. Volgens die partybeleid, regtig nou?! Skud die kremetartboom!! Verandering is pynlik, maar goed!”

Hy het kort daarna weer getwiet: “Hou op skiet!”

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Pravin Gordhan  |  Cyril Ramaphosa  |  Twiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.