Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tesourie wil polisie se begroting met R6 mjd. sny

’n Dringende vergadering word tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die nasionale tesourie beoog weens ’n voorgestelde besnoeiing van die polisiebegroting van R6,2 miljard oor die volgende twee boekjare.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het Woensdag aan LP’s gesê die polisie is deur die nasionale tesourie ingelig dat hulle aan ’n besnoeiing van R6,2 miljard in sy begroting moet werk.

Khehla Sitole. Foto: Melinda Stuurman

Hy was deel van ’n afvaardiging van die polisie se senior leierskorps wat ’n voorlegging aan die gekose komitee oor veiligheid en justisie gelewer het oor sy 2019/’20-prestasieplan.

“Die implikasies van die R6 miljard-besnoeiing is dat R2,7 miljard veronderstel is om van die vergoedingsprogram oor die volgende boekjaar besnoei te word en R2,8 miljard in die boekjaar daarna.”

Sitole sê dié voorgestelde besnoeiing stuit die beleidsrigting wat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede gegee het toe hy aangekondig het dat 7 000 rekrute gewerf moet word.

Sitole sê die grootte van die polisie se personeelkorps het boonop oor die jare afgeneem. In 2010 was die personeelkorps 199 000 met die bevolking wat tussen 47 miljoen en 48 miljoen was.

“Nou het die bevolking tot 57,3 miljoen toegeneem en die personeelkorps het tot 193 000 verminder.”

Die Verenigde Nasies se goedgekeurde verhouding van polisiebeamptes tot die bevolking is 1:220 en tans is die verhouding in Suid-Afrika 1:383, sê Sitole.

Met die beplande 7 000 rekrute wat deur die president aangekondig is, probeer die polisie om die gaping te verklein, sê hy.

“Met die moontlike begrotingsbesnoeiing kan ons nou nie daarmee voortgaan nie. Ons gaan die kwessie met die nasionale tesourie bespreek.”

Planne is onder meer aan die gang om misdaad rondom 30 polisiekantore met ’n hoë voorkoms van misdaad te verminder, het LP’s gehoor. Dit volg nadat Bheki Cele, minister van polisie, vroeër in sy begrotingsrede gesê het dat geweldsmisdaad oor die volgende vyf jaar met 50% verminder moet word.

Dié kantore sluit in Johannesburg-Sentraal, Nyanga, Hillbrow, Mitchells Plain, Khayelitsha, Dobsonville, Delft, Umlazi, Ivory Park, Kraaifontein, Kagiso, Honeydew, Temba, Inanda, Mfuleni, Alexandra, Pretoria-Sentraal, Plessislaer, Durban-Sentraal, Moroka, Mamelodi-Oos, Jeppe, Witbank, Tembisa, Park Road, Randfontein, Harare, Eldorado Park, Rietgat en Empangeni.

Meer oor:  Genl. Khehla Sitole  |  Begroting  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.