Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Thabete swaai voor Zondo om oor Guptas

Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement, wat ’n sleutelrol gespeel het in die omstrede Vrede-suiwelprojek, het in ’n ommeswaai erken hy was destyds in ’n vergadering by die Gupta-woning in Saxonwold, Johannesburg.

Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement, getuig Maandag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Skermgreep

Honderdmiljoene rande van belastingbetalers se geld is aan Estina, ’n Gupta-beheerde maatskappy, betaal om die Vrede-suiwelprojek namens die Vrystaatse regering te bedryf.

Die projek was veronderstel om swart boere op te hef, maar dit het basies op niks uitgeloop nie.

Thabethe, wat voorheen in ’n beëdigde verklaring aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê het hy het nooit die Guptas ontmoet nie, het Maandag in sy getuienis gesê hy vermoed dat hy wel ’n Gupta-broer ontmoet het.

Volgens hom was hy in 2013 in Saxonwold om met “mense van Indië”, wat bande met Estina gehad het, oor werkpermitte te vergader. Hy kon nie met sekerheid sê wie die een is wat hom aan die “Indiërs” voorgestel het nie, maar hy vermoed dit was ’n Gupta-broer.

Adv. Leah Gcabashe SC, ’n ondervraer vir die kommissie, sê die Gupta-e-posse wys dat Thabethe minstens agt keer met een van die Guptas vergader het. Een van die kere is Thabethe luidens dié e-posse deur Mosebenzi Zwane, destydse LUR vir landbou in die Vrystaat, vergesel.

Thabethe het dié beweerde ontmoetings ontken.

Dit het verder uit sy getuienis geblyk dat hy nie veel geweet het hoe Estina belastingbetalers se geld bestee het nie.

Gcabashe het na bankstate verwys wat daarop dui dat ’n direkteur van die Vrede-suiwelprojek ’n salaris van meer as R90 000 per maand verdien het, maar Thabethe het nie eens geweet dat dié pos bestaan nie.

“Wat ek sê, jy het nie die geld van Estina gemonitor nie. Dit is hoekom jy nie weet van die direkteur se salaris nie,” het Gcabashe gesê.

Nadat ongerymdhede met die Vrede-suiwelprojek aan die lig gekom het, is die kontrak tussen die Vrystaatse regering en Estina in 2016 gekanselleer.

Gcabashe het verwys na ’n brief wat Thabethe toe aan Estina geskryf het waarin hy Estina vra om ’n belastingeis uit te stel totdat ’n uitstaande bedrag van R109 miljoen, wat glo aan Estina geskuld is, oorbetaal word.

Dit is vreemd, het Gcabashe gesê, want belasting wat Estina geregtig sou wees om terug te eis, was reeds by die bedrag van R109 miljoen ingesluit.

“Ek het hulle gevra om nie te eis nie, want dan sou daar dalk ’n dubbele eis deurgaan,” het Thabethe getuig.

Gcabashe was nie tevrede met sy antwoord nie, maar het nogtans aanbeweeg na die volgende aspek van sy getuienis.

Met Thabethe se vorige verskyning voor die kommissie het hy getuig dat hy plaaslike suiwelmaatskappye, onder meer Parmalat, genader het om by die Vrede-suiwelprojek betrokke te raak.

Gcabashe het toe gewys op beëdigde verklarings wat talle Suid-Afrikaanse suiwelmaatskappye, onder meer Parmalat, intussen by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) ingedien het waarin dié maatskappye ontken hulle is ooit daarvoor genader.

Thabethe het gesê hy volstaan by dit wat hy gesê het.

Meer oor:  Peter Thabethe  |  Zondo-Kommissie  |  Getuienis  |  Ommeswaai  |  Gupta-Woning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.