Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Thuli sê sy weet nie van voorlopige Vrede-verslag

Sover sy kan onthou, was daar geen voorlopige verslag oor die Estina-suiwelprojek in Vrede in die Vrystaat toe haar termyn as openbare beskermer (OB) geëindig het nie, sê prof. Thuli Madonsela.

Dit is in reaksie op ’n uitlating van adv. Busisiwe Mkhwebane, haar opvolger, wat in onderhoude met die SAUK gesê het sy beplan om só ’n verslag van Madonsela openbaar te maak.

Prof. Thuli MadonselaFoto: Argief

Die hooggeregshof in Pretoria het Mkhwebane se verslag oor dié omstrede suiwelprojek Maandag ongrondwetlik en ongeldig verklaar. Die verslag is tersyde gestel.

Die hof het bevind dat Mkhwebane haar plig versuim het om die projek behoorlik te ondersoek en daaroor verslag te doen.

Regter Ronel Tolmay het ook beslis dat sy diegene wat by die skandaal betrek word, nie behoorlik ondersoek het nie.

Mkhwebane het nie enige bevindings in haar verslag gemaak oor die rol van die vorige Vrystaatse premier, Ace Magashule, en die destydse LUR vir landbou, Mosebenzi Zwane, in die suiwelprojek nie omdat dit nie deel van haar ondersoek uitgemaak het nie.

Sowat R200 miljoen wat vir swart opkomende boere geoormerk was, het gevloei na dié projek van Estina, ’n maatskappy wat vermoedelik bande met die Gupta-familie het.

Adv. Busisiwe Mkhwebane

Die hofaansoek is deur die DA en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) ingedien.

Mkhwebane het reeds aangedui dat sy die konstitusionele hof regstreeks wil nader om teen die bevinding te appelleer.

Madonsela het by navraag gesê sover sy kan onthou, het sy geen voorlopige verslag agtergelaat toe haar termyn as OB in 2016 verstryk het nie.

“Ek het wel verskeie kere konsepverslae na die Vrystaat teruggestuur.

“Ek onthou ook ons het in daardie tyd nie meer voorlopige verslae aan die betrokke partye gestuur nie uit vrees dat dit sou uitlek,” sê Madonsela.

“Toe ek weg is, was daar geen goedgekeurde voorlopige verslag nie.”

In die laaste fase is die provinsiale verteenwoordiger gevra om ondersoek in te stel en te bepaal watter individue aanspreeklik gehou moet word omdat die verslag nie enige name genoem het van mense wat die projek begin en deurgevoer het nie.

“Ek het hulle gevra om onderhoude te doen met mnr. Zwane en die premier (Magashule, nou die sekretaris-generaal van die ANC) om vas te stel wat hul rol was.

Hierna het ’n ontmoeting met Magashule (op Magashule se versoek) in haar kantoor plaasgevind.

“Met daardie ontmoeting het mnr. Magashule my vrywillig geadviseer om met mnr. Zwane te praat omdat hy aan die hoof gestaan het van die projek.

“Hy (Zwane) sou verduidelik dat alles volgens die reëls gedoen is,” sê Madonsela.

Dié ontmoeting het nooit plaasgevind nie, sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.