Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Thuli weet nie hoekom Waterkloof-verslag nog by OB lê

Prof. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer (OB), het geen idee waarom haar opvolger nog nie die verslag oor die omstrede Gupta-familie se destydse landing van ’n vliegtuig vol bruilofgaste by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria uitgereik het nie.

Dié ondersoek was ten volle afgehandel toe Madonsela se termyn verstryk het.

Prof. Thuli MadonselaFoto: Lulama Zenzile

Madonsela, wat deesdae verbonde is aan die Universiteit Stellenbosch, het Woensdag so gesê in ’n onderhoud met Eusebius McKaiser op die radiostasie 702.

Sy sê sy kry steeds klagtes van klaers in ondersoeke wat sy in haar termyn begin het dat hulle geen terugvoering kry oor die vordering daarmee van adv. Busisiwe Mkhwebane, die nuwe OB, nie.

Madonsela sê sy het met haar uittrede ’n omvattende verslag met al die uitstaande ondersoeke aan Mkhwebane oorhandig.

“My werk was net om onvolledige sake aan haar te oorhandig. Sy moes self besluit wat belangrik vir haar is.”

Madonsela het vertel hoe sy voor haar vertrek uit die OB-kantoor die Guptas se omstrede landing by die Waterkloof-lugmagbasis in 2013 volledig ondersoek het.

Oudpres. Jacob Zuma is onder meer daarby betrek.

Sy weet nie waarom Mkhwebane nooit die verslag daaroor die lig laat sien het nie.

Alle betrokkenes is ondervra, ook diegene wat die blaam verskuif het na laerang-amptenare. Haar kantoor het ook beeldmateriaal van die gesprek tussen die lugmagbasis en die vliegtuig gekry.

Oor oproepe dat Mkhwebane uit haar pos verwyder word, het Madonsela gesê iemand moet nie as ongeskik vir sy of haar pos beskou word net omdat dié se verslae in ’n hof hersien word nie.

Madonsela sê die Waterkloof-ondersoek was vir haar belangrik omdat “dit verband gehou het met die hartklop van die staat en hoe jy toelaat dat buitelanders op ’n weermagbasis kon land. Ook omdat staatsgeld en hulpbronne daartydens gebruik is.”

Sy meen dit kom neer op vrugtelose en vermorste uitgawes as iets deeglik ondersoek is en daar dan nie ’n verslag daaroor uitgereik word nie.

Sy ontken dat sy met onlangse twiets by Mkhwebane se werk inmeng en sê haar twiets is net haar waarneming van die politieke landskap.

Madonsela meen dit was nie onregmatig dat Mkhwebane onlangs in ’n YouTube-video aangekondig het dat sy Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in kennis gestel het dat hy deur getuienis voor haar geïmpliseer word nie. Sy meen wel dit was ongewoon.

Oor haar onlangse teedrinkery met Helen Zille, voormalige Wes-Kaapse premier, het Madonsela gesê dit het gekom nadat sy Zille op Twitter gepak het oor haar omstrede twiets oor “swart bevoorregting”. Sy sê sy en Zille sal daardie gesprek in verdere teedrinksessies voortsit.

Oor oproepe dat Mkhwebane uit haar pos verwyder word, het Madonsela gesê iemand moet nie as ongeskik vir sy of haar pos beskou word net omdat dié se verslae in ’n hof hersien word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.