Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Thuma Mina’ is vir Zuma geskryf!

Die woorde waarmee pres. Cyril Ramaphosa in sy eerste staatsrede ’n nuwe tyding vir Suid-Afrika wou bring, is eintlik vir sy voorganger, oudpres. Jacob Zuma, geskryf.

Volgens pres. Ramaphosa se voormalige toespraakskrywer Wonderboy Peters is “Thuma Mina” (’n Hugh Masekela-lied), oftewel “stuur my”, waarmee Ramaphosa burgers in sy eerste staatsrede op 16 Februarie 2018 geïnspireer het, eintlik geskryf met oudpres. Zuma in gedagte. Dié storie word ook vervat in die politieke joernalis Qaanitah Hunter se boek Balance of Power: Ramaphosa and the Future of South Africa.

Zuma het kort voor die toespraak, op 14 Februarie 2018, as president bedank.

Peters, wat sedert 2015 vir Ramaphosa as toespraakskrywer gewerk het, sê Ramaphosa en Zuma se toespraakskrywers het saam aan 2018 se staatsrede gewerk omdat Ramaphosa toe reeds ANC-president was, en ’n gesamentlike boodskap uitgestuur moes word.

Peters het geglo met Zuma se toekoms in die weegskaal, kon die “Thuma Mina”-lirieke die land se gemoed bietjie ophelder. “Ek’t gedink mense sou sê, kom ons luister na die president (Zuma), as hulle die woorde sou hoor,” sê Peters.

“Elke konsepskrywe wat mens skryf, is vir ’n spesifieke spreker. En in my soektog na ’n tema om ’n sekere gevoel te skep, het ek vir 2018 se staatsrede pres. Zuma in gedagte gehad. Ek het geen idee gehad hy sou op 14 Februarie 2018 as die president bedank nie.”

Volgens Peters het hy geweet sy skrywe sou iets spesiaals vir Zuma moes wees, omdat Zuma “baie uitdagings” gehad het.

“Ek het ’n bietjie goud gesoek vir Msholozi (Zuma), iets werklik buitengewoons. As ’n mens, as ’n medereisiger, het hy deur baie pyn gegaan, is hy verneder, en was daar elke dag daadwerklike pogings om hom te bespot en sy legitimiteit as president te bevraagteken.”

Eindelik het Zuma bedank, en is die nou bekende woorde deur Ramaphosa geuiter, waarna hy staande toegejuig is. “Thuma Mina” het later ook deel gevorm van die ANC se verkiesingsveldtog in 2019.

Tog was Ramaphosa se raadgewers volgens Peters eers nie te vinde daarvoor nie. Twee van Ramaphosa se raadgewers, Steyn Speed en adv. Nokukhanya Jele, het glo gevoel dis nie wys dat Ramaphosa in sy eerste toespraak as president lirieke aanhaal nie.

“Ek was geknak, maar ek het stilgebly en nooit my teleurstelling met iemand gedeel nie.”

Toe die derde konsepweergawe van die toespraak egter gesirkuleer is, was “Thuma Mina” ingesluit.

Peters het die presidensie in 2019 verlaat en skryf nou toesprake vir die KwaZulu-Natalse regering.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Hugh Masekela  |  Thuma Mina
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.