Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tien vrae aan Skoor-voorsitter oor Sassa

Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), is een van die mense wat aan die spits was terwyl die krisis met die uitbetaling van maatskaplike toelae ontvou het. Skoor is die enigste komitee wat tot dusver insette van die meeste rolspelers in die regering in dié sage aangehoor het. Alicestine October het tien vra aan Godi gestel.

Themba Godi. Foto: Gallo Images

1. Pres. Jacob Zuma het Donderdag in die parlement laer getrek om Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, en meen sy het nie “misluk” in die uitbetaling van die toelae nie, dus kan hy haar nie voortydig straf nie. Dink jy dit is opsetlike onkunde en wat dink jy hiervan?

TG: “Dit is ’n politieke reaksie op ’n nasionale krisis, so dit is te verwagte. Indien hulle gaan optree teen diegene wat agter die krisis sit, sal dit waarskynlik ná die sperdatum wees en ná toelae wel uitbetaal is. Dit is natuurlik bespiegeling, maar dit is ook kortsigtig om ’n krisis te bly ontken, al is dit om nie onnodige paniek te saai nie. Dit is onverskillig. Ek sal baie verras én teleurgesteld wees as daar nie opgetree word nie.”

2. Dink jý Bathabile Dlamini moet haar werk behou?

TG: “Dit is duidelik sy het aangejaag en sommer baie ook. Koppe moes al gerol het toe die konstitusionele hof die kontrak met Cash Paymaster Services (CPS) in 2014 ongeldig verklaar het. Sassa (die agentskap vir maatskaplike sekerheid) het toe al gefaal en nou doen hy dit weer. En die minister is oral en is oënskynlik die oorsaak van die probleem. Ek dink nie enigiemand kan dit regverdig dat sy in haar pos as minister bly.”

3. Dink jy die onwilligheid om op te tree aan die kant van die president en selfs van Dlamini om verantwoordelikheid te neem, is toe te skryf aan die president en sekeres in die ANC se gebrek aan begrip oor die omvang en implikasie van die Sassa-krisis?

TG: “Ons sit hier met substantiewe feite. Dit is daar vir almal om te sien. Dit is onaanvaarbaar dat iemand soos die minister as politieke hoof onkunde pleit . . . om te sê daar is nie ’n krisis nie. Om net te sê toelae sál uitbetaal word op 1 April en voor te gee dit is die einde van die storie, is kortsigtig. ’n Mens moet onthou, vir gewone mense wat net hul toelaag wil hê – as hulle dit op 1 April kry, beteken dit vir hulle die minister het haar deel gedoen. Maar ’n mens moet onderskei tussen hoe die gewone begunstigde die situasie verstaan en hoe die minister dit verstaan. As leiers moet ons bewuswording nie op die vlak van die massas wees nie. Jy kan nie ’n leier wees en mense lei en jou denke is op die vlak van die gemiddelde mens nie. Hoe lei jy dan?”

4. Daar is tot dusver baie gefokus op die Sassa-krisis as ’n selfgeskepte krisis. Tog het die parlement saam die pad geloop sedert 2014 toe die konstitusionele hof die CPS-kontrak ongeldig verklaar het. As daar dan pligsversuim aan die kant van Sassa en die minister was, geld dit nie ook die parlement nie?

TG: “Wel, ons kon beter gevaar het. Ons kon in ons interaksie met Sassa verder gegaan het as om net leë versekerings te aanvaar en toe te laat dat hy wegkom deur kwessies te ontduik. Dit lyk asof die parlement, soos met die SAUK-sage, hier ook geslaap het op sy pos. Tog ondersoek ons as Skoor kwessies soos wat die ouditeur-generaal dit uitwys en nie deur die koerante nie. Ons is besig om miljoene rande se onreëlmatige besteding deur Sassa – soos die R316 miljoen wat onreëlmatig aan CPS bestee is, te ondersoek. Dit is hoe ons die Sassa-kwessie benader het.”

Wie is Themba Godi?

Themba Godi is die African People’s Convention (APC) se enigste verteenwoordiger in die parlement. Godi is voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) wat toesig hou oor hoe die regering belastinggeld bestee. Hy was voorheen die PAC se adjunkpresident voordat hy weggebreek en sy eie party gestig het. Hy was een van die eerste LP’s wat die vensterperiode vir oorlopery tussen partye in 2006 benut het. Sy kiesafdeling is in Mpumalanga.

5. Dink jy die minister en Sassa het deur hul hantering van die krisis die parlement ondermyn?

TG: “Die minister was deurgaans op die agtervoet en het telkens probeer om kwessies te ontduik. Sy het die omvang van die gemors begryp en wou net ’n rookskerm skep. Ons het dit nie toegelaat nie. Sy is gedril.”

6. So wanneer jy in die voorsitterstoel sit en luister na die minister en Sassa en al die draaie om vrae te omseil, wat gaan deur jou kop?

TG: “Wanneer ’n mens daar sit, kan jy agterkom wanneer mense jou ore probeer aansit. Ek kry altyd die diep gevoel van teleurstelling, want dit is die publiek se geld wat vir dienste aangewend moes word. So elke sent wat vermors word, beteken minder dienste aan ons mense. Ons is in die parlement om ons mense te dien en indien ons dit nie doen nie, is dit alles ’n klug.”

7. Jy word deur talle beskou as ’n soort ANC-boetie omdat jy meestal in die parlement saam met dié party stem. Wat het verander?

TG: “Ek is ’n trotse politieke aktivis met Pan- Afrikanistiese en sosialistiese beginsels. So ek kan nie saamstem met enigiets wat voorkom as die liberale projek nie. Daar is die persepsie dat ek ’n ANC-boetie is, maar dit is nie waar nie. Ek kan bloot nie my beginsels verraai nie. Indien jy die Hansard nagaan, sal jy sien daar is kwessies wat ek telkens uitlig wat soos ’n draad deur al my toesprake in die parlement loop – armoede, werkloosheid en ongelykheid. Dit is dinge wat mense se lewe raak. So toe die EFF sy mosie bring oor grond, toe steun ek dit.”

8. Wat dink jy van die ANC in die lig van die Sassa-krisis en dié party se benadering tot kwessies wat jou na aan die hart lê?

TG: “Ek is teleurgesteld. (In die stryd om vryheid) was daar ’n doelwit. Nou het hulle die mag om dié doelwit te verwesenlik, maar hulle doen die teenoorgestelde. Ek kyk na die ANC en vra myself af – het julle dan geen politieke trots nie? Onthou julle waarvandaan julle kom? Met die vryheidstryd was daar hoër waardes wat ons mense as fokuspunt gehad het. So ek vind dit alles baie teleurstellend.”

9. Met die Sassa-krisis, wat weeg volgens jou swaarder as die moontlike oorsake – onbevoegdheid of politieke inmenging?

TG: “Dit is politieke inmenging wat ons tot hier gebring het. Daar is talle mense in Sassa wat die regte ding wil doen en wat bevoeg is. Maar hier het ons politieke inmenging in administratiewe aangeleenthede. Dit eindig dan in die hof wat dan leiding moet gee aan die administrasie van die uitvoerende gesag en só die gevaar loop om self beskuldig te word dat hy inmeng in uitvoerende kwessies. Die uitvoerende gesag moet bloot sy werk doen. Politici moet hul neus uit administratiewe kwessies, soos verkrygingsprosesse, hou.”

10. Wat is die pad vorentoe vir Skoor en Sassa? Talle politieke partye het reeds gevra vir ’n parlementêre ondersoek. Wat kan Skoor doen?

TG: “Ons kan enige kwessie ondersoek en ons sal nog daaroor besluit. Parlementêre komitees moet net hul werk reg doen, want teen die tyd dat ons met ondersoeke wil begin, is daar al ’n reeks verkeerde dinge wat opgehoop het. Ons het beter toesig nodig sodat lang ondersoeke nie nodig is nie.”

* Skoor sal binnekort ook met die Poskantoor vergader oor die Sassa-krisis

Meer oor:  Themba Godi  |  Parlement  |  Sassa  |  Skoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.