Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Titelaktes sleutel tot welvaart-skepping’

Titelaktes is die sleutel tot welvaartskepping in die landbou en die res van die ekonomie, het Wandile Sihlobo, ’n landbou-ekonoom, Donderdag op Nampo buite Bothaville in die Vrystaat gesê.

Die verbetering van infrastruktuur en die samesmelting van die departemente van landbou en landelike ontwikkeling is ook op ’n bespreking genoem as noodsaaklik stappe om die landbou te bevorder.

Theo Vorster in gesprek by Nampo-oesdag in Bothaville.

Theo Vorster, die gespreksleier van die Nasie in Gesprek-praatjiereeks op Nampo, het aan Jannie de Villiers, president van Graan SA, Francois Strydom, hoof van Senwes, prof. Ferdie Meyer, ook ’n landbou-ekonoom, en aan Sihlobo gevra wat hulle dink ’n minister van landbou moet doen.

Die tema van Donderdag se gesprek was die belangrikheid van ’n ekonomie van skaal: groot teenoor klein boerderye.

Die vraag moet gevra word of daar plek is vir kleinboere in die landbou-ekonomie, sê Vorster.

De Villiers sê ’n mens moet nie net na klein of groot boerderye kyk nie maar ook kyk of boere kommersieel suksesvolle oeste op kleiner stukke grond kan verbou.

Dit is ook bewys dat hoe meer die regering kleinboere bystaan, hoe meer lewensvatbaar word hulle. Maar mentorskap is ook belangrik.

Meyer sê daar is beslis plek in die ekonomie vir klein- sowel as grootboere. Hy noem die voorbeeld van klein pluimveeboere wie se voerkoste baie hoog is, maar hulle kan plaaslik hoenders teen ongeveer R50 elk verkoop.

Die groter boere se koste is baie laer, maar omdat hulle massas hoendervleis vir die formele mark produseer, verkoop hulle die hoendervleis teen die helfte minder vergeleke met die kleinboer.

De Villiers sê ’n mens moet onthou dat swak infrastruktuur nie net boere se toegang tot markte belemmer nie, maar ook hul toegang tot insetprodukte soos saad, misstof, brandstof en landbouchemikalieë.

Sihlobo sê voordat daar op meer grond vir kleinboere gefokus word, moet die produktiwiteit op bestaande landbougrond in kleinboere se besit verbeter word.

“Eers dan sal dit nodig wees om meer grond te begin gebruik,” sê hy.

Volgens Sihlobo moet die vernuf van entrepreneurs egter nooit onderskat word nie. In die Oos-Kaap is infrastruktuur ’n groot probleem vir kleinboere omdat dit hul toegang tot markte bemoeilik.

Een graanboer in die streek het ’n geleentheid raakgesien en begin om die mark vir geelmielies te ontgin. Hy koop geelmielies by ander graanboere en het so die verskaffing van geelmielies aan die plaaslike mark gekonsolideer.

Die mielies word grof gemaal en dit is ’n baie gewilde pap in die streek.

Sihlobo sê daar is beslis plek vir klein- en groter boere. Groter boere ding in die internasionale markte mee, terwyl kleinboere plaaslike markte kan ontgin.

Al die paneellede was dit eens dat dit noodsaaklik is om titelaktes aan kleinboere te gee. Só kan hulle toegang kry tot finansiering om hul boerderye uit te brei.

Strydom sê grond wat nie tans in private besit is nie, is ’n groot onproduktiewe bate wat deur die toekenning van titelaktes ontsluit kan word.

Meer oor:  Titelaktes  |  Nampo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.