Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tito kap op Twitter na Makhura oor e-tol

Tito Mboweni, die minister van finansies, het Vrydag weer op Twitter uitgevaar oor planne om die e-tolstelsel in Gauteng te skrap.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: GCIS

“Wanneer jy in tolpad-infrastruktuur belê, verwag jy ’n opbrengs vir baie jare wat voorlê, nie die koste van jou belegging vandag nie. Dit is wat jy in sake doen. Premier Makhura, is dit reg?” het Mboweni op Twitter geskryf.

Dit volg nadat David Makhura, die premier van Gauteng, vroeër vandeesweek tydens sy provinsiale rede gesê het planne is op dreef om die e-tolstelsel in dié provinsie te skrap.

Mboweni vra op Twitter of hy dalk iets mis. “As ek vandag avokado’s plant, doen ek dit met die wete dat ek in sowat tien jaar sal oes. Ek het sekerheid nodig dat die beleidsomgewing ondersteunend sal wees vir my langtermynbelegging as ’n avokadoboer.”

Hy skryf dat onsekerheid rondom beleid beleggings kortwiek. “Daarom moet die gebruiker betaal, premier Makhura!”

Makhura het in sy provinsiale rede gesê die beëindiging van e-tol kan nie meer gekeer word nie. “Een van die kwessies waarna ek kyk, is die finale oplossing vir e-tol. Ons posisie het nie verander nie. Ons is vasbeslote dat e-tol nie deel uitmaak van die provinsie se toekoms nie.”

Fikile Mbalula, die minister van vervoer, het op Twitter probeer tussenbeide tree en vir Mboweni gevra of die kwessie nie eers bespreek moet word nie, soos pres. Cyril Ramaphosa opdrag gegee het.

“Daarna, nadat met alle rolspelers gepraat is, kan ons ’n gesamentlike siening aan die gemeenskap bied.”

Vuyo Mhaga, die premier se woordvoerder, het Vrydag by navraag gesê Makhura gaan nie sy siening rondom die e-tolstelsel verander omdat iemand anders van hom verskil nie. “Die mense van Gauteng het gepraat en moet gerespekteer word.”

Mhaga sê die premier glo die e-tolstelsel is nie volhoubaar nie. “Dit is veral nie volhoubaar wanneer dit by klein besighede kom nie. Om e-tol te betaal het ’n impak op hul pryse. Die implementering van die e-tolstelsel is ook nie op die regte manier gedoen nie.”

Volgens Mhaga het Makhura vroeër met Ramaphosa oor die kwessies rondom e-tol gepraat.

“Die president en sy span is steeds besig om die kwessie te ondersoek. Dit is nie net ’n provinsiale probleem nie, maar ’n nasionale een. Dit raak net meer mense in Gauteng.”

Intussen het die ANC in Gauteng gesê hy is bekommerd oor Mboweni se uitlatings.

“Ons glo dié uitlatings is te kwader trou en ondermyn al die pogings van die provinsiale leierskap en die nasionale span wat saamwerk om ’n blywende oplossing vir die stelsel te vind,” lui ’n verklaring deur Jacob Khawe, provinsiale sekretaris van die ANC.

Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), sê die feit dat Mboweni impliseer die regering moet geld maak uit belastingbetalers is verkeerd.

“Die e-tolstelsel gaan nooit ophou nie, selfs al is die paaie wat gebou is in die toekoms afbetaal. Die regering gaan dus ’n profyt begin maak. Hoekom moet belastingbetalers ’n bron van wins wees?”

Duvenage sê die feit dat twee vlakke van die regering nie eenstemmigheid oor die e-tolkwessie kan bereik nie, veroorsaak vir die regering ’n krisis van legitimiteit.

“Mense lag nou vir die regering en neem hom nie ernstig op die. As mense vertroue verloor in die regering verloor die regering sy geloofwaardigheid.”

Duvenage sê die regering moet die saak met die mense bespreek, ’n besluit oor die e-tolstelsel neem en aanbeweeg.

Khusela Diko, die president se woordvoerder, het Vrydag nie onmiddellik op Netwerk24 se navraag gereageer oor wanneer die regering ’n besluit oor die e-tolstelsel gaan bekend maak nie.

Mboweni se woordvoerder, Jabulani Sikhakhane, kon ook nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  David Makhura  |  Gauteng  |  E-Tol Planne  |  Tolpad-Infrastruktuur  |  E-Tolstelsel  |  Twitter  |  Skrap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.