Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tito: ‘Mabuza neem my ernstig op’

“Ek kan jou belowe dat die adjunkpresident die minister van finansies ernstig opneem.”

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag met dié woorde teruggekap oor die gekoggel uit opposisiebanke in die Nasionale Vergadering.

Tito Mboweni. Foto: Reuters

Dit was nadat adj.pres. David Mabuza Dinsdag in vraetyd gesê het hy neem Mboweni nie ernstig op oor sy uitsprake oor die moontlike privatisering van staatsinstellings nie. Mabuza het bygevoeg dat hy nie die twiets deur die minister ernstig opneem nie omdat dié uitsprake sy eie is, en nie regeringsbeleid nie.

Mboweni het Woensdag vinnig gereageer toe daar uit DA-geledere na die kwessie verwys is. “Ek kan jou belowe dat die adjunkpresident die minister van finansies ernstig opneem. Ek kan jou dit belowe. Moenie kies en keur oor wat die adjunkpresident sê en dit verkeerd gebruik nie,” het hy onder ’n geruis gesê.

Mabuza het in sy sitplek gesit en lag toe Mboweni dit sê.

Mboweni het op ’n vraag van Alf Lees, DA-LP, oor die verkoop van bates wat nie van kernbelang is nie, gesê Suid-Afrika het talle staatsinstellings en sommige van hulle funksioneer baie goed, terwyl ander voortsukkel.

“Ons het gesê ons het die groep bates geïdentifiseer wat nie van kernbelang is nie en daarom sal ons dit op ’n geval-tot-geval-grondslag hanteer. So moenie die kwessie ideologies benader nie, hanteer dit op die grondslag van die wetenskaplike inligting tot ons beskikking ten einde te verseker dat ons die gewenste resultate kry,” het Mboweni gesê.

Lees het gesê hy verstaan nie Mboweni se antwoord nie. “Die begroting sê spesifiek dat die reddingsboeie vir staatsinstellings – anders as dié vir Eskom – befonds sal word uit die verkoop van bates wat nie van kernbelang is nie. Hoe kan ons daarvoor begroot en nie weet watter bates ons in die huidige jaar gaan verkoop en hoeveel ons daarvoor gaan kry nie. Ek verstaan nie, ons het die SAUK wat blykbaar R6,5 miljard wil hê. Wat gaan ons doen? Gaan ons nou geld uit die gebeurlikheidsreserwefonds vat – wat ek sal verstaan – maar die ander lê nog vanjaar en wag,” het Lees gesê.

Mboweni het geantwoord: “Een van die voorregte daarvan om die minister van finansies te wees, is dat jy al die inligting tot jou beskikking het. Ek weet watter bates goed vaar en watter nie. Ongelukkig kry julle slegs dié voordeel wanneer julle die verkiesing gewen het. So sodra julle die verkiesing gewen het, kan jy die minister van finansies word en al die inligting tot jou beskikking hê en doen wat jy wil.”

Die DA was nie ingenome met dié antwoord nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.