Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tito nooi DA se finansman na sy plaas

Ideologiese verskille, uitjouery in die parlement en bekgevegte op Twitter hoef politici nie te keer om rondom ’n tafel te sit en praat oor wat die beste vir Suid-Afrika is nie.

Hill-Lewis en Mboweni by die Mountain Café-restaurant in Magoebaskloof. Hill-Lewis het vir Mboweni ’n Mitchells Plain-hemp as geskenk saamgevat.

Só verduidelik Geordin Hill-Lewis, die DA se woordvoerder oor finansies, sy besoek aan Tito Mboweni, minister van finansies, se plaas in Magoebaskloof, Limpopo, op Vrydag 26 Maart.

“Ek aanvaar dat Tito ’n man van integriteit is wat sy beste doen om ons land te laat werk. As ek jou bona fides as persoon kan aanvaar, dan kan ons oor die weg kom en ’n pad stap,” sê Hill-Lewis.

Die gedagte vir die besoek het een aand ontstaan toe die twee in 2019 ná ’n parlementsitting in Kaapstad ’n drankie gaan drink het. Hill-Lewis is toe pas as die DA se woordvoerder oor finansies aangewys. “Sedertdien praat ons op WhatsApp oor ’n kuier op sy plaas in Magoebaskloof, maar die pandemie het die planne in die wiele gery,” sê Hill-Lewis. “Hy het egter weer hierdie jaar aan my begin karring dat ek moet kom, en toe besluit ek om soontoe te reis.”

Hulle het ’n “lang middag met fantastiese kos en uitstekende Stellenbosse wyn” geniet, sê hy.

Ongelukkig het Mboweni, wat graag op Twitter spog met sy knoffelryke kookvernuf, nie self gekook nie. Mboweni se boerdery het wel die rissies verskaf wat die restaurant Mountain Café in Hill-Lewis se steak-gereg gebruik het. Mboweni het gebraaide hoender geëet.

Hill-Lewis se besoek volg nadat John Steenhuisen, die DA-leier, onlangs gesê het die opposisie moet nouer saamwerk met “hervormers” in die ANC.

“Die minister het my ook genooi om by sy gunstelinghotel (die Magoebaskloof-hotel) aandete te kom eet, want dit was kerrie-aand, maar ek moes ongelukkig begin terugreis huis toe,” sê Hill-Lewis.

Die Magoebaskloof-hotel was verlede jaar in die nuus toe Mboweni kla dat die hotel geen Covid-hulp by die regering kry nie omdat die eienaar wit is.

Hill-Lewis se besoek volg nadat John Steenhuisen, die DA-leier, onlangs gesê het die opposisie moet nouer saamwerk met “hervormers” in die ANC.

Die ANC het verlede maand die mosie van die DA-hoofsweep, Natasha Mazzone, gesteun om die bevoegdheid van Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, te laat ondersoek.

“Ons het ook die minister se fiskale raamwerk ná sy onlangse begrotingsrede ondersteun,” sê Hill-Lewis. “Dit sou gemeen wees om die raamwerk net te opponeer omdat ek kan. Ek probeer myself altyd in die skoene sit van die persoon wat die besluite moet deurvoer.”

Maar wat is tydens die twee se “lang middagete” bespreek?

Dit was juis met so ’n middagete met die Financial Times in April 2019 wat Mboweni gesê het hy sou nooit van sy eie geld in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) belê nie. “Ek word nie toegelaat om daaroor te praat nie,” het hy gesê.

Hill-Lewis sê: “Ek vir hom gesê Rapport gaan my oor hierdie besoek bel, en ons het toe op huisreëls ooreengekom dat ons nie die inhoud van die gesprekke bekend sal maak nie. Maar die SAL het ter sprake gekom, asook die begroting en die skuldkrisis. Ons albei voel nou is die tyd om hierdie boot om te draai, veral wat die staat se salarisrekening betref.

“Ons het ook oor die politieke toekoms gesels, en waar ons die land sien. Partye moet saamwerk. Dit is onvermydelik.”

Hill-Lewis, wat burgemeester van Kaapstad wil word, sê hy hoop meer sulke kuiers kan oor partygrense heen geskied.

“Ons probeer nou al vir ’n hele paar jaar hierdie verhoudings bou, en dit lyk eindelik of iets aan die gebeur is.”

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Geordin Hill-Lewis  |  Da  |  Anc  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.