Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tito onder skoot oor standpunt oor SAL

Tito Mboweni, minister van finansies, is deur ANC-lede op die vingers getik oor sy standpunt oor staatsondernemings soos die beleërde Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).

Mboweni se uitsprake op Twitter het ter sprake gekom op die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat Vrydag in Irene, Pretoria, begin het.

Besprekings oor die toekoms van die SAL wat tans in sakeredding is en die kragreus Eskom het na verneem word die vergadering oorheers. Pravin Gordhan, minister van staatsondernemings, Enoch Godongwana, NUK-lid en voorsitter van die ANC se subkomitee oor ekonomiese transformasie, asook Neva Makgetla, ’n ekonoom, het voorleggings aan die lede van die ANC se hoogste besluitnemingsliggaam gedoen.

Ondanks skerp kritiek oor sy uitsprake en ’n oproep om tugmaatreëls teen hom, het Mboweni aan die NUK benadruk dat die SAL gelikwideer kan word indien dit nie teen Sondag ’n reddingsboei van R2 miljard van die regering ontvang nie. Hy het voorheen gewaarsku dat die lugdiens die ekonomie aftrek en ontbind moet word. Mboweni het Saterdag na die 50ste beraad van die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, vertrek nadat hy die NUK-vergadering bygewoon het.

Die minister is ook bekend vir sy teenkanting van die ANC se voorneme om die Reserwebank te nasionaliseer. NUK-lede van die ANC in KwaZulu-Natal het hom gestriem en gesê sy houding oor die bank en SAL is ’n afwyking van partybeleid.

Die ANC het verlede week Mboweni in ’n amptelike verklaring tot orde geroep omdat hy van ANC-beleid afwyk ten opsigte van die Reserwebank.

Drie bronne wat die vergadering bygewoon het, sê die mening het Vrydag posgevat dat Mboweni aan tug onderwerp en die Leviete voorgelees moet word oor sy menings wat hy op Twitter deel.

“KwaZulu-Natal het gevra dat tugstappe teen hom gedoen word. Sommige NUK-lede het daarop gewys dat hy nie die enigste een is wat sy menings twiet nie en dat ander mense soos Tony Yengeni ook uitsprake op Twitter maak,” het ’n ANC-lid gesê.

Mboweni het egter glo teruggekap en gesê sy sienings is reeds bekend. “Hy (Mboweni) het gesê indien ons nie geld bekom nie, sal die SAL gelikwideer word omdat banke nie meer geld aan die lugdiens wil leen nie,” het nog ’n NUK-lid gesê.

In ’n verklaring wat Sondag uitgereik is, sê die departement van staatsondernemings dat hy ’n vergadering met die sakereddingspraktisyns van die SAL gehou het nadat die spertyd vir die oorbetaling van ’n reddingsboei verstryk het. Die departement sê in die verklaring ook dat hy die Nasionale Tesourie betrek om geld vir die lugdiens te bekom.

“Die regering gaan voort om met die sakereddingpraktisyns saam te werk. Die hoofdoel is om ’n geherstruktureerde, moderne lugdiens tot stand te bring wat meer as ’n miljoen toeriste kan karwei en ’n baken is van sake-innovering en -doeltreffendheid,” aldus die verklaring.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, wou nie kommentaar lewer oor die beweerde onenigheid in die NUK oor Mboweni se uitsprake nie.

Die minister het hom Maandag weer tot Twitter gewend. “In die politiek moet jy nooit probeer gaaf wees teenoor diegene wat jou haat en teen jou saamsweer nie. Konfronteer hulle openlik, kop teen kop, hand tot hand, vuis tot vuis, woord vir woord en tong vir tong. Moenie die ander wang draai nie.”

Die NUK-lede sal Maandag in kommissies verdeel terwyl Mboweni beleggersvertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie moet aanmoedig in Davos.

* Oor Eskom het Gordhan glo aan die NUK-lede gesê dat die kragverskaffer bekwame ingenieurs moet terugbring om die minder ervarenes te mentor. Private beleggers moet genooi word om aandele in Eskom te koop en die kragreus moet meer vloeibare gas as ’n energiebron gebruik. Die private sektor moet ook toegelaat word om aan die elektrisiteitsbedryf deel te neem om die las op die regering te verlig.

NUK-lede het ook gehoor dat staatsdienslone steeds die grootste onkoste vir die regering is en dat dit ingeperk moet word terwyl die land die risiko loop om deur Moody’s afgegradeer te word.

* Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, sal na verwagting Woensdag ’n nuuskonferensie hou oor die afloop van die NUK-vergadering.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.