Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tito sê dalk of SAL nog R2 miljard kry

Die jongste pogings om nóg R2 miljard aan die SAL toe te staan om dit “kunsmatig” aan die lewe te hou, is net “nog ’n bloedoortapping aan ’n pasiënt wat hom vinniger doodbloei as wat hy bloed kan ontvang”.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, het Donderdag so gesê in reaksie op berigte dat Tito Mboweni, minister van finansies, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, as deel van ’n dringende subkomitee van die parlement teen Donderdag sal besluit of die regering ’n staatswaarborg van R2 miljard aan die SAL gaan toestaan of nie.

Foto: Elvira Wood

Business Day het Donderdag ook berig dat handelsbanke bereid is om die geld aan die SAL voor te skiet om hom in staat te stel om sy salarisse of verskaffers te kan betaal – mits daar so ’n staatswaarborg is.

Sam Mkokeli, Gordhan se woordvoerder, het Donderdagmiddag gesê geen aankondiging is nog daaroor gemaak nie. Hy sê dat die departement wel nog dieselfde dag die jongste verwikkelinge by die SAL aan die publiek bekend sal maak. Teen 17:00 was daar egter nog geen kommentaar van die departement hieroor nie.

Rossouw glo dat die belastingbetaler nie meer lus is om nog geld aan die SAL te gee nie.

“Dit is omdat daar regtig ’n beter aanwending van belastingbetalersgeld kan wees. Ek volstaan egter by my standpunt dat die SAL al vyf jaar gelede toegemaak moes word. Dit sou ons tot nou R20 miljard gespaar het.”

Volgens Rossouw weet niemand egter wat tans met die SAL se geldsake aangaan nie.

“Dit is omdat die lugdiens twee jaar gelede laas finansiële state by die parlement ingedien het. Dit wys hulle doen nie eens verantwoording aan die parlement nie. Ons sit met misdadige bestuurders daar,” sê hy.

“Ons moet daarom asseblief net die SAL toemaak. Sommer ook vir Denel wat net so geld vermors.”

Rossouw sê die SAL is tans net ’n ydelheidsprojek vir politici wat in die buiteland wil spog dat hulle in hul eie lugdiens heen en weer vlieg. Die land en belastingbetalers het dit nie nodig nie. Ons kan dit nie meer bekostig nie.”

Intussen het Cosatu, ’n ANC-alliansievennoot wat nie aan die onlangse verlammende staking by die SAL deelgeneem het nie, Donderdag in ’n verklaring ook gesê dat sy hoofraad op hul onlangse vergadering die leierskap van die SAL, SA Express, die SAUK en Eskom erg gekritiseer het omdat hulle nie vakbonde by hul herstruktureringsplanne insluit nie én hul werkers “teiken”.

“Cosatu ondersteun die pogings om die staatsentiteite te herstruktureer om hul korporatiewe bestuur, aanspreeklikheid, doeltreffendheid en die uitvoer van hul mandaat te verbeter. Ons sal egter aanhou om privatisering te verwerp omdat dit die land se hulpbronne uit die hande van die mense neem,” sê Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder.

“Die aflegging van 900 werkers by ArcelorMittal se aanleg in Saldanhabaai is ’n herinnering aan wat roekelose privatisering aan mense se lewe doen.”

Cosatu glo staatsentiteite moet reggeruk word sodat dit die kapasiteit van die staat kan versterk en om nie ’n las vir die staat te wees nie.

“Hul rol is om die regering se ontwikkelingsagenda te dryf.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.