Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tito soos ‘kat op ’n warm plaat’ oor Landbank, onteiening

Die Landbank het nog nie enige beleid of planne gereed vir indien onteiening sonder vergoeding ’n werklikheid sou word nie.

Só het Tito Mboweni, minister van finansies, op skriftelike parlementêre vrae erken.

Hy sê ook die Landbank sal steeds die lenings van boere wat hul grond weens onteiening sonder vergoeding verloor, opeis.

Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, sê dié organisasie is baie bekommerd oor die stand van die Landbank en sy voortdurende likiditeitsprobleme.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die landbou-organisasie Saai, sê Mboweni is met sy antwoorde “soos ’n kat op ’n warm plaat”.

Mboweni het in antwoord op vrae van Noko Masipa, DA-parlementslid en lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, erken die Landbank het geen spesifieke plan of beleid om die risiko’s en moontlike verliese die hoof te bied nie.

Die Landbank het nog nie enige beleid of planne indien onteiening sonder vergoeding ’n werklikheid sou word nie. Foto: Sarel van der Walt

Dit is omdat die proses om die Grondwet en die Onteieningswet te wysig, nog aan die gang is.

Hy hoop die parlement sal die nuwe Onteieningswet só bewoord dat dit die bank se regte as krediteur sal beskerm.

Mboweni het in sy antwoord ook daarop gewys dat indien die Landbank nie met die proses van onteiening sonder vergoeding beskerm word nie, sal die bank dadelik sowat R9 miljard aan sy skuldeisers moet terugbetaal.

Sy totale uitgeleende waarde van R41 miljard kan ook onmiddellik opgeëis word.

Masipa waarsku in ’n verklaring die onsekerheid oor beleid ten opsigte van onteiening sonder vergoeding, kan die laaste spyker in die bank se doodskis wees.

Van Zyl sê die Landbank finansier die landbousektor met sowat R45 miljard, wat ’n wesentlike deel van die finansiering van die sektor insluit.

“Daar heers by ons groot kommer oor die vraag na produksiekrediet in die nuwe seisoen – en dat die bank se ‘gemorsstatus’ tot duurder finansiering sal aanleiding gee wat êrens geabsorbeer sal moet word.”

Omdat die staat self nie geld het om die Landbank se waarborge te betaal nie, kan dit die land se ekonomiese stelsel en voedselsekerheid baie negatief beïnvloed.

De Jager sê Mboweni se antwoord wys op watter ekonomiese afgrond die land sal afstuur met onteiening sonder vergoeding.

Beide art. 25 van die Grondwet en die Onteieningswet moet gewysig word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Toe die ANC in 2017 op sy nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg besluit het onteiening sonder vergoeding moet regeringsbeleid word, was daar erge tweespalt in die regerende party daaroor.

De Jager sê kragtens die huidige Onteieningswet gaan ’n verband tot niet wanneer ’n boer se grond onteien word.

Hy het ook daarop gewys dat die huidige Onteieningswet reeds ’n artikel bevat wat aan verbandhouers voorkeur gee met uitbetalings in gevalle van onteiening.

“Só ’n artikel het slegs nut waar onteiening mét vergoeding plaasvind.”

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, sê die minister se antwoorde skets nie die volle prentjie en moontlike toekomstige gevolge nie, omdat sekere wysigings nog hangende is.

Purchase wys daarop dat die sakesektor hom in die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) teen verskeie aspekte van die voorgestelde wysigings aan die Onteieningswet uitgespreek het.

“Die voorgestelde wysigings aan die Grondwet en die Onteieningswet en die moontlike gevolge daarvan, veroorsaak groot onsekerheid,” sê Purchase.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dit is duidelik dat dié lede van die ANC wat onteiening sonder vergoeding voorgestel het, die saak op ideologiese vlak beredeneer en nie besef het watter gevolge dit vir die ekonomie sal inhou nie.

“Die negatiewe gevolge van onteiening sonder vergoeding is gewis nog nie behoorlik verreken nie,” sê Van Zyl.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.