Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
TLU en Agri SA verklaar ‘oorlog’ teen onteiening

’n Hofstryd dreig ten opsigte van grondonteiening sonder vergoeding.

Dr. Mathole Motshekga. Foto: GCIS

Die landbou-organisasie TLU SA het aangekondig dat hy hom gereed maak vir ’n hofstryd “om grondeienaars rakende sake van onteiening sonder vergoeding by te staan”. Daar is reeds begin om op internasionale vlak en van internasionale regskenners aanbevelings te ontvang, sê hy.

Dit terwyl Agri SA op sy beurt aangedui het dat ’n grond- en-omgewingsfonds geskep is “om die regte van alle Suid-Afrikaners in aangeleenthede van onteiening sonder vergoeding te beskerm”.

“Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners wat vooruitgang en inklusiewe ekonomiese groei nastreef om ons te ondersteun.

“Agri SA sal voorgaan om die regte van sy lede te beskerm, en sal nie skroom om die beskikbare wetlike opsies te gebruik om die grondwetlike eiendomsreg van alle Suid Afrikaners te beskerm nie,” lui die organisasie se verklaring.

Dié stap kom ná die sitting Woensdag van die parlementêre ad hoc-komitee oor die wysiging van art. 25, die eiendomsklousule, van die Grondwet.

Die komitee het sy besprekings oor die wysiging voortgesit nadat die parlement in November verlede jaar ’n resolusie aanvaar het om die Grondwet te wysig om eksplisiet vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak.

Drie voorstelle is voor dié komiteesitting voorgehou oor hoe die Grondwet gewysig kan word.

Louis Meintjes, president van die TLU SA, het egter in ’n verklaring gesê dit was duidelik dat die komitee se fokus uitsluitlik was op hóé die Grondwet gewysig moet word, en nie wat die gevolge daarvan sal wees nie.

“Dit is uiters kommerwekkend dat aspekte soos die gevolge vir die ekonomie, beleggingsonsekerheid, graderings deur kredietagentskappe, en die heel belangrikste – voedselsekerheid – geen gewig in die proses dra nie.

Dit is nie tot die voordeel van Suid-Afrika nie.

“Die enigste saak van belang is dat grond onteien moet word, ten spyte van talle voorbeelde van hoe dit reeds weens korrupsie, gierigheid en onkunde misluk het. Dit is nie tot die voordeel van Suid-Afrika nie,” lui sy verklaring.

Verwarring oor die proses het Woensdag uit sekere oorde op die komiteesitting deurgeskemer.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, wou duidelikheid hê oor of die proses van die vorige parlement en al die insette en voorstelle wat ontvang is, steeds op die tafel is, al dan nie.

Dave Steward, uitvoerende direkteur vir die Sentrum vir Konstitusionele Regte, het op sy beurt gevra of hul teenwoordigheid in die komiteesitting impliseer dat die komitee op die een of ander manier die noodsaak en die wenslikheid aanvaar om die Grondwet te wysig.

Annelize Crosby, hoof van grondsake by Agri SA, het gesê die uitnodiging na die komiteesitting was nie duidelik oor of die fokus van die bespreking slegs op die bewoording van die wysiging sou wees nie. “My enigste mandaat van Agri SA is dat ons gekant is teen enige wysiging van artikel 25 – want waar ons staan, sien ons die enigste rede vir só ’n wysiging as ’n politieke een wat ons nie dink die probleem gaan oplos wat ons wil oplos nie, en ons dink nie dit is goed vir die land nie.”

Die komitee het ingestem om skriftelike voorleggings van die deelnemers te aanvaar.

Dr. Mathole Motshekga, komiteevoorsitter, het egter geantwoord dat die wenslikheid of nie van die wysiging van die Grondwet reeds deur die vorige parlement gehanteer is. Die proses is verby daardie stadium.

Die parlement het bevind dit is wenslik dat die Grondwet gewysig word en die ad hoc-komitee is aangestel om aan die wysiging te werk.

“Ons gaan nie terug nie, ons beweeg vorentoe. Ons is ’n verlengstuk van die parlement . . . ons kan nie die mandaat van die parlement verander nie.”

Meer oor:  Tlu  |  Agri Sa  |  Onteiening  |  Grondonteiening Sonder Vergoeding  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.