Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
TLU SA gaan boere só help wat plase verloor

Die landbou-organisasie TLU SA het ’n veldtog begin om boere wat van hul plase afgesit word, te help om ander huisvesting te kry totdat hul omstandighede verbeter of hulle ’n ander heenkome gevind het.

TLU SA het ’n plaashuisregister begin met inligting oor leë en bewoonbare plaashuise, waar boere tydelik gehuisves kan word.

Die organisasie sê in ’n verklaring die plaashuisregister was die inisiatief van Bertus van der Westhuizen, Vrystaatse voorsitter van TLU SA.

Van der Westhuizen sê dit is ’n gegewe dat baie boere weens onder meer droogte en ander natuurrampe hul plase verloor.

“Rampe kan enige boer, groot of klein, met verwoestende gevolge tref. Ons is baie bekommerd oor die toekoms van dié boere. Van hulle het ’n ander heenkome, ander nie. Ons as organisasie kan nie al dié boere finansieel ondersteun nie. Daarom wend ons ons tot die gemeenskap om oplossings te help soek,” sê Van der Westhuizen.

’n Plaashuis op ’n mooi somersdag in die Vrystaat. Foto: Charles Smith

Die plaashuisregister sal by TLU SA se hoofkantoor bygehou word om boere en weldoeners se persoonlike inligting te beskerm, sê die organisasie.

“Wanneer TLU SA in verband met noodbehuising genader word, sal die organisasie as tussenganger optree om die betrokke partye met mekaar in verbinding te plaas.”

Die onderskeie partye kan verder self met mekaar onderhandel.

Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê die plan is nie net om lede van TLU SA te help nie.

“Enige boer, wie hy ook al is, kan ons nader. Elke saak sal op meriete tussen die boer en die eienaar gehanteer word.

“Die gedagte is dat ons mense help totdat hulle ’n ander heenkome vind,” sê Van Zyl.

“Ons het met die plan begin om dit vir mense makliker te maak om hulp te kry. Uiteraard is dit vir baie mense nie maklik om te erken dat hulle ’n probleem het nie. Daarom is ons rol bloot om mense bymekaar te kry sodat hulle self kan onderhandel. Die mense se inligting sal nie aan die groot klok gehang word nie,” sê Van Zyl.

“Die stelsel kan ook sekere voordele inhou vir onder meer plaasveiligheid omdat die huise bewoon sal word. Dit kan wees dat dié mense moontlik selfs op die plaas kan werk of boer,” sê Van Zyl.

Vir meer inligting skakel Elanza Joubert by 012 804 8031 of stuur ’n e-pos aan sekretaresse@tlu.co.za.

Meer oor:  Tlu Sa  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.