Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Toerismeraad pleit oor derduisende hul werk kan verloor

Tot 600 000 regstreekse en meer as ’n miljoen onregstreekse werkgeleenthede in die toerisme-sektor kan vanjaar verlore gaan indien toerisme-ondernemings nie dringend toegelaat word om hul deure stelselmatig te heropen nie.

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA), het Dinsdag aan LP’s van die parlementêre portefeuljekomitee ’n somber prentjie geskilder.

Tshivhengwa en die res van die TBCSA se topbestuur en direksie het die komitee in ’n aanlyn-sitting oor hul voorstelle vir die stelselmatige heropening en herstelplanne toegespreek.

Die TBCSA verteenwoordig ondernemings in die toerisme- en reisbedryf.

Die V&A Waterfront in Kaapstad, met Tafelberg in die agtergrond is gewilde toeriste aantreklikhede. Foto: Getty Images

Luidens ’n TBCSA-voorlegging aan die komitee het die bedryf weens die staat van inperking feitlik tot stilstand gekom. Sommige ondernemings kon op 1 Junie met die aanvang van vlak 3 heropen.

Die inperkings het daartoe gelei dat tot 1 000 maatskappye namens hul 35 000 werkers om regeringshulp aansoek gedoen het. Tot 50 000 ondernemings is egter tydelik of permanent gesluit, aldus die voorlegging.

Die TBCSA versoek dat die sektor toegelaat word om teen September vanjaar stelselmatig te heropen om toerisme van algehele ondergang te red.

Die raad stel as tussentydse noodmaatreël voor dat hulp uit die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) tot langer as drie maande verleng word en toerisme-ondernemings met ’n jaarlikse omset van meer as R300 miljoen ook by die regering se finansiële verligtingspakket aan maatskappye moet baat.

Nog ’n voorstel is dat die verligtingspakket van R200 miljoen vir klein, middelslag- en mikro-toerisme-ondernemings vergroot word. ’n Spesiale reis-en- toerismefonds moet ook oorweeg word, stel die TBCSA voor.

Tshivhengwa het gesê die bedryf maak grootliks staat op plaaslike en internasionale vlugte vir oorlewing en dat groot én klein ondernemings nie daarsonder sal kan oorleef nie.

“Ons moet dit beskerm.”

Tshivhengwa het aan die LP’s gesê sukkelende ondernemings wat wil weet of hulle hul personeel moet aflê, bel hom daagliks.

Hy het kritiek van LP’s weerlê dat die TBCSA op winsbejag ingestel is nie bekommerd oor die lewensverlies weens die pandemie is nie.

“As ons nie oopmaak nie, sal ons nie oorleef nie. En as ons oopmaak, sal ons net-net gelyk breek as ons gelukkig is.”

Volgens hom moet die vertroue en aansien wat Suid-Afrika se toerismebedryf tans wêreldwyd geniet, herwin word.

“Ons beroep is dat die bedryf heropen word omdat ons die impak (van die inperkings) op grondvlak sien."

Ons beroep is dat die bedryf heropen word omdat ons die impak (van die inperkings) op grondvlak sien.

Sommige LP’s het beweer die bedryf het nie genoeg getransformeer nie omdat buitelanders in plaas van Suid-Afrikaners in veral restaurante in diens geneem word.

Van hulle het die TBCSA gekritiseer omdat sy afvaardiging na die komitee nog “meestal wit mans is”.

Tshivhengwa het daarop gewys dat tot 76% van alle werkers in die sektor swart is.

“Ons mag tekortkominge hê soos die indiensneming van buitelanders, maar ons werk hard daaraan.”

Blacky Komani, die TBCSA se raadsvoorsitter, het saamgestem dat hoewel transformasie plaasvind, moet baie ten opsigte daarvan nog in die sektor gedoen word.

Komani het benadruk dat die TBCSA hom beywer vir die stelselmatige en nie skielike heropening van die sektor nie, omdat “’n moeilike balans” tussen die red van lewens en lewensbestaan handhaaf moet word.

Supra Mahumapelo, komiteevoorsitter en oud-premier van Noordwes, het ook benadruk dat die sektor meer getransformeer moet word.

Hy het na die onlangse onsuksesvolle hofgeding van AfriForum en Solidariteit oor ras as kriteria vir hulp aan die toerismebedryf verwys. Die twee organisasies was gekant teen die departement van toerisme se voorskrif oor swart ekonomiese bemagtiging vir toerisme-ondernemings wat geld uit die Covid-19-hulpfonds wil hê.

Volgens Mahumapelo moet die hofsaak “’n les wees vir almal in die sektor om eers in gesprek met die minister te tree voordat hulle hof toe hardloop”.

Meer oor:  Raad  |  Toerismebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.