Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Tot soveel as R60 mjd. deur staatskaping gesteel,’ sê Gordhan

Tussen R50 miljard en R60 miljard is gedurende die staatskapingsjare onder die bewind van oudpres. Jacob Zuma van staatsentiteite soos Eskom en Transnet gesteel.

Dit is die voorlopige bevindings van forensiese ondersoeke wat dié staatsentiteite laat doen het en wat intussen afgehandel is, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Vrydag in ’n parlementêre antwoord op ’n vraag van Floyd Shivambu, EFF-adjunkpresident, gesê.

Shivambu wou in dié vraag by Gordhan weet hoekom die minister in sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping nie genoem het dat staatsentiteite tussen R50 miljard en R60 miljard weens staatskaping verloor het nie.

Shivambu wou ook weet watter maatskappye of staatsentiteite die geld gesteel het en waarom Gordhan nie ’n saak aanhangig gemaak het om dié misdrywe aan te meld nie.

Pravin GordhanFoto: DAILY SUN

Gordhan sê in sy antwoord sy getuienis voor die kommissie was gegrond op die inligting wat hy in daardie stadium gehad het.

“Dit het daarna aan die lig gekom nadat die staatsentiteite forensiese ondersoeke laat doen het. Daar is na raming tussen R50 miljard en R60 miljard by hulle gesteel. Die getuienis wat voor die kommissie gelewer is, stem ooreen hiermee.”

Gordhan sê dat hy voorheen in ’n parlementêre antwoord genoem het dat Eskom en Transnet suksesvolle siviele hofgedinge vir die verhaling van die geld ingedien het.

Gordhan sê dat hy in daardie antwoord ook die name van die maatskappye genoem het wat die hof beveel het die gesteelde gelde aan die twee staatsentiteite moet terugbetaal.

“Ons sal mettertyd die besonderhede verskaf omdat van die ondersoeke suksesvol afgehandel is wat betref spesifieke maatskappye en individue wat aanspreeklik gehou word deur die howe.”

Volgens Gordhan is ’n verslag van die ondersoeke ook aan die Valke en die Spesiale Ondersoekeenheid oorhandig om te bepaal wie vir die gesteelde geld aanspreeklik gehou moet word.

Vroeër is berig hoe Gordhan in ’n ander parlementêre antwoord in Augustus vanjaar gesê het hoe daar tot dusver sowat R2,12 miljard teruggekry is van die miljarde wat weens staatskaping gesteel is.

Hieronder tel die R902 miljoen wat die internasionale konsultantfirma McKinsey aan Eskom moet terugbetaal.

Gordhan het toe ook gesê dat Eskom R600 miljoen teruggekry het wat onwettig aan die Gupta-verwante maatskappy Trillian betaal is.

Dit terwyl die Chinese maatskappy China South Rail ná onreëlmatige vooruitbetalings vir die instandhouding van lokomotiewe R618 miljoen aan Transnet terugbetaal het.

Gordhan het in daardie antwoord ook gesê dat daar nog terugbetalings kan wees as Transnet suksesvol is in siviele eise teen vorige topbestuurders.

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.