Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tradisionele leiers maak wêreld vir Cyril warm

Pres. Cyril Ramaphosa moes Donderdag bontstaan toe die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers hom oor verskeie sake voor stok gekry het, onder meer oor wat leerlinge in die omstrede seksonderrig-kurrikulum by skole geleer word.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: JACO MARAIS

Ramaphosa het Donderdagmiddag in sy slottoespraak aan die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers gesê hy is “geskok” om te hoor van wat sekere leerlinge as deel van die kurrikulum vir uitgebreide seksonderrig geleer word.

Hy het aan tradisionele leiers die versekering gegee dat hy Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal versoek om so gou moontlik met hulle daaroor in gesprek te tree.

Ramaphosa het as staatshoof in die debat ook erge kritiek van tradisionele leiers verduur wat hul “teleurstelling en frustrasies” uitgespreek het oor hoe swak die regering hulle sedert 1994 behandel.

Hy moes hulle ook om verskoning vra dat hy hulle nie in sy onlangse staatsrede erken het nie nadat hulle hom Donderdag ook daaraan herinner het.

Integrale deel van SA

Volgens Ramaphosa is tradisionele leiers egter ’n integrale deel van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie en maak hulle deel uit van die land se reis na die toekoms.

“Julle kan nie daarvan weghardloop nie. Julle kan julself nie daaraan onttrek nie. Dit is wat en wie julle is. Julle moet daarom deel wees van die proses vorentoe.”

Hy het die seksonderrigkwessie opgehaal nadat tradisionele leiers, soos talle ouers vroeër ook, ook daaroor gekla het.

Ramaphosa het gesê dit is belangrik “dat ons die kommer oor die kurrikulum in ons skole moet aanpak nadat die kwessie pertinent hier geopper is”.

“Dit is in 2000 ingestel as deel van die vakke lewensoriëntering en lewensvaardighede om te verseker dat leerlinge nie verwarrende en misleidende boodskappe oor seks, seksualiteit en gender-verhoudinge kry nie.

“Hierdie boodskappe op selfone, die internet of rekenaars dring hul verstand en denke in. Die departement van basiese onderwys het daarom gevoel dat hy deur die vakke en kursusse wat in ons skole aangebied word, in staat moet wees om die kwessie regstreeks te hanteer.”

Kommer oor inhoud moet opgelos word

Volgens Ramaphosa is dit egter duidelik dat daar gesprekke tussen die departement en tradisionele leiers moet wees om te verseker dat “enige wanopvattings en kommer oor die inhoud” opgelos word.

“Want dit wat hier gesê is dat kinders geleer word om te masturbeer, vind ek baie skokkend. Dit moet nie deel wees van wat hulle geleer word nie.

“Daarom moet die tradisionele leiers en die departement van basiese onderwys met mekaar praat. Ek sal ons minister versoek om daardie gesprekke te begin,” het Ramaphosa gesê.

Hy het gesê hy droom daarvan dat die onderwysstelsel baie ryker moet wees om die jeug meer oor die geskiedenis van Suid-Afrika se tradisionele leiers van die verlede te leer.

“Van hoe hulle in die verlede geleef het sodat hulle (die jeug) ten volle kan begryp presies waarvoor daardie leiers gestaan het.”

Volgens Ramaphosa is die jeug, soos sy eie 22-jarige dogter, gretig om dié soort inligting oor Suid-Afrikaanse helde en nasiebouers van weleer te ontvang.

“Laat ons self deur die destydse leiers se optrede gelei word en laat ons saamwerk om ’n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners te bou,” het Ramaphosa gesê.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Seksonderrig  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.