Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tradisionele rade bly ondemokraties

’n Klousule in ’n wetsontwerp wat die beheer van ondemokratiese leiers in sommige gemeenskappe in Suid-Afrika verleng, het nog ’n ronde in die parlement oorleef.

Ten spyte van druk dat tradisionele rade in die toekoms meer demokraties verkies moet word, bly dié deel van die Wetsontwerp op Tradisionele en Khoisan-leierskap onveranderd.

Die wetsontwerp bepaal dat altesame 60% van tradisionele rade deur die mees senior tradisionele leier in die gebied gekies moet word en dat 40% demokraties verkies moet word. ’n Derde van die rade moet ook uit vroue bestaan. Daar was sprake dat die persentasies minstens omgekeer sou word, sodat 60% demokraties verkies sou word, maar daar het dadels van gekom.

Voorgestelde veranderinge aan die wetsontwerp is in Augustus en September deur die parlementêre portefeuljekomitee oor tradisionele sake en samewerkende regering bespreek.

Johan Meiring, ’n senior bestuurder in die departement, het komiteelede probeer oortuig dat ’n “groot element van demokrasie” tot rade gevoeg word deurdat die helfte van die lede wat gekies word, gewone gemeenskapslede moet wees. Die ander helfte moet tradisionele leiers wees.

Hy is nie oortuig nie

Die komiteevoorsitter, Richard Mdakane (ANC), is egter nie oortuig nie. “Dit is belangrik dat die koning of tradisionele leier nie sommer net sy vriende kan kies nie.” Daar is egter nie ’n besluit geneem nie en die kwessie sal moontlik weer geopper word wanneer die parlement sy werksaamhede in die laaste kwartaal hervat.

Die 40/60-beginsel is reeds in die kommentaartydperk wyd gekritiseer.

Constance Mogale, die nasionale koördineerder van die Alliance for Rural Democracy, sê sy het gehoop dat demokrasie in landelike gebiede teen dié tyd al meer ontwikkel sou wees.

Die kwessie word al sedert die 1990’s bespreek toe die rol van “stamowerhede”, wat ingevolge apartheidswetgewing geskep is, onder die nuwe regering bespreek is. Daar is destyds besluit dat “stamowerhede” voortaan “tradisionele rade” genoem sou word en ingevolge die Wet op Tradisionele Leierskap en Regeringsraamwerk van 2003 40% demokraties verkies moes word.

Mogale sê daar was tóé al teenkanting teen die beginsel. “Maar ons het aanvaar ons sou nie die eerste keer ’n perfekte wet kry nie.” Tradisionele rade het sedertdien egter aanhoudend hul sperdatums om verkiesings te hou misgeloop en telkens van die regering uitstel gekry.

Daarom het die sentrum vir navorsing oor grond en verantwoordbaarheid (Larc) by die Universiteit van Kaapstad in hul voorlegging aan die parlement geredeneer daar is ’n vraagteken oor of tradisionele leiers ooit werklik sal transformeer. Larc het ook gevalle voorgehou van waar tradisionele leiers besluite neem wat die hele gemeenskap raak – oor byvoorbeeld mynregte – wat nie in die belang is van die mense wat op die grond woon nie.

Meer mag as d estyds

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, sê tradisionele leiers het nou meer mag as in die 1990’s omdat plaaslike regerings in landelike gebiede nie suksesvol is nie. “In die 1990’s was daar meer vertroue in stelsels, maar plaaslike regerings vaar só sleg dat hulle hul geloofwaardigheid verloor het. Nou reik hulle (plaaslike raadslede) uit na tradisionele leiers in ’n poging om hul mag te behou.” Mathekga sê dit is die rede waarom dit lyk of die ANC en tradisionele leiers ál nader aan mekaar beweeg, terwyl hulle in die 1990’s meer gereeld deur die ANC gekritiseer is.

Mathekga sê tradisionele leiers se mag spruit ook daaruit dat hulle in landelike gebiede die enigste persoon met outoriteit is, omdat munisipale infrastruktuur en polisiekantore ver weg is van waar mense woon. As jy dus ’n dokument moet laat sertifiseer, gaan jy na die tradisionele leier.

Een oorwinning vir die DA se Kevin Mileham was dat sy voorstel dat tradisionele leiers eers met gemeenskappe moet konsulteer voordat regte aan byvoorbeeld mynmaatskappye toegestaan word, aanvaar is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.