Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Transformasie in landbou ’n móét’

Vir transformasie in landbou en grondhervorming om te slaag gaan die regering moet besef dat dit nie genoeg is om bloot vir ’n swart boer grond te gee nie.

Pierre Vercueil, waarnemende president van Agri SA.

Pierre Vercueil, nuut aangewysde waarnemende president van Agri SA, sê dis juis die regering se probleem.

“Die staat sien die oordrag van grond as een saak en produksie as ’n ander,” sê Vercueil.

“Die beste manier hoe transformasie (in landbou) kan plaasvind, is om seker te maak dat dit lewensvatbaar gedoen word.”

Vercueil is verlede week as waarnemende president van Agri SA aangewys ná die vorige president, Dan Kriek, se skokbedanking weens gesondheidsredes.

Hy sal nou amper ’n volle termyn, tot Oktober 2020, as president waarneem nadat hy oorspronklik saam met Kriek se verkiesing as president in Oktober 2017 tot visepresident verkies is.

‘Regte transformasie is gevestigde swart boere.'

Vercueil sê transformasie in die landbousektor is nie net meer ’n debat vir die georganiseerde landbousektor nie, dis ’n móét.

“Agri SA kan nie net ’n wit profiel handhaaf nie. Kommersiële boere moet betrokke raak, want dit is in belang van ons land.”

Hy en twee van Agri SA se swart direksielede, SK Makinana en Phineas Gumede, is reeds besig om planne te beraam hoe om swart boere wat kommersieel begin boer meer betrokke te kry by georganiseerde landbou.

“Swart boere is nie noodwendig gemaklik om aan te sluit by die plaaslike boerevereniging nie, so ons moet uitvind hoe ons hulle belange ook kan dien.”

Die groot klip in die pad bly egter die regering se plan om grondonteiening sonder vergoeding deel te maak van die Grondwet.

“Met die regte kandidaat, plus lewensvatbare finansiering en private eiendomsreg sal grondhervorming en ons rol daarin werk.

“Maar ongelukkig wil die regering nie noodwendig praat oor wat suksesvol gaan wees nie, maar eerder oor hoe om grond in swart hande te kry.”

En volgens Vercueil is dít ’n groot jammerte omdat “hier genoeg intellektuele kapitaal is om grondhervorming te laat werk”.

“Daarom kan ons nie op die staat staatmaak nie, hulle moet op ons staatmaak. Grondonteiening sonder vergoeding is ’n politiekery wat ’n groot uitwerking op grondpryse het,” sê Vercueil en voeg by dat landbougrond se waarde die afgelope jaar reeds gemiddeld met 30% gedaal het.

“Kapitaalkragtige boere kan dié wat dit nie maak nie se grond maklik koop. Dis ’n kopersmark, en tradi­sionele familieboerderye is onder geweldige druk daaroor. Die platteland gaan armer word hieroor.

“Dit is mos nie wat die staat wil bereik nie? Hulle wil in die ander rigting beweeg, maar gaan nou verkeerde kant toe vir politieke ondersteuning.”

Soos sy voorganger sal Vercueil ook seker maak dat Agri SA grondonteiening sonder vergoeding tot in die hoogste hof gaan beveg.

“Wie kan bepaal of ons in die toekoms nie met ’n regering gaan sit wat hierdie wet misbruik nie?

“Ons kan nie op die kantlyn sit nie. Ook nie eens as die regering sê mense gaan moet baklei vir hul grondregte nie, want dit word ’n boelietaktiek waarby boere nie die regskostes gaan kan dra nie. Uit ’n morele oogpunt sal die staat selfs die boer se regskostes moet dra as hulle grond só wil herverdeel.”

Vercueil gaan hom toespits op:

* ’n klipharde mentaliteit oor privaateiendomsreg;

* om die beste mense te kry om transformasie te laat werk; en

* om goeie buurmanskap en opleiding van opkomende boere toe te pas.

“Regte transformasie is gevestigde swart boere wat onafhanklik van die staat kan funksioneer.

“Ons kan daarom nie kompromieë aangaan rakende ekonomiese werklikhede nie. Boerdery is ’n langtermynprojek.”

Meer oor:  Grondhervorming  |  Agri Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.