Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Transformasie skiet ver tekort

Die minister van sport, kuns en kultuur moet verseker dat al 19 van die land se sportfederasies se bestuur en deelnemers 50% getransformeer is teen 2024.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Frennie Shivambu

Nie eens die helfte van die sportfederasies kon teen 2019 dié teiken bereik nie.

Dit is onder die doelwitte wat vervat is in die prestasieooreenkoms wat die betrokke minister, Nathi Mthethwa, in Desember met pres. Cyril Ramaphosa onderteken het.

Hiervolgens moet Mthethwa verseker dat al 19 van die land se sportfederasies teen 2024 minstens 50% swart, bruin of Indiër-verteenwoordiging het.

Die jongste Eminent Persons Group (EPG)-verslag oor transformasie in Suid-Afrika wys egter Mthethwa het ’n steil bult om te klim as hy hierdie plan wil laat realiseer. Die verslag is in Junie gepubliseer.

Volgens die verslag het nege van die 19 federasies hul transformasieteikens in 2018-’19 bereik. Tafeltennis (100%), sokker (89%), vlugbal (87%), krieket (72%), sagtebal (72%), boks (67%), netbal (61%), basketbal (50%) en atletiek (50%) het in 2018-’19 die regering se 50%-kerf bereik.

Rugby (39%), swem (28%), hokkie (22%), bofbal (17%), tennis (17%), gimnastiek (11%), jukskei (6%), rolbal (0%), roei (0%) en skaak (geen syfer verskaf nie) het nie die paal gehaal nie.

Mthethwa se kantoor wou nie die afgelope twee weke sê hoe hy die ommeswaai wil bewerkstellig nie. Hy het verlede jaar ’n aanduiding gegee oor hoe hy van plan is om federasies te dwing om te transformeer.

In Augustus het hy ’n verklaring uitgereik waarin hy vergaderings met onder meer die federasies van hokkie, swem en krieket aangekondig het aangaande die verslag.

‘Dit doen niks om geleenthede te ontwikkel nie.’

“Federasies moet die kwessie van transformasie ernstig opneem en as ononderhandelbaar beskou. As die minister van die portefeulje sou ek die mense van Suid-Afrika in die steek laat en die Grondwet skend indien ek daarin misluk om teen hierdie transformasie-misdadigers op te tree.”

Hy het ook gedreig om die federasies te penaliseer wat nie die 50%-teiken haal nie. Dit kon insluit:

* Die onttrekking van regeringsfinansiering;

* Die onttrekking van die reg om internasionale toernooie plaaslik aan te bied, of daarvoor te bie;

* Die onttrekking van die reg om nasionale kleure aan deelnemers toe te ken; en

* Die onttrekking van die reg om as ’n nasionale federasie erken te word.

Mthethwa het verduidelik dat hy vir krieket by hokkie en swem gegroepeer het omdat hulle, alhoewel hulle die 50%-kerf bereik het, nie genoeg swart Afrikane in hul spanne het nie.

Hy het verlede jaar met die bekendstelling van die verslag gesê dat indien federasies nie wil saamspeel nie, hy “wetgewende werktuie” kan gebruik om te verseker dat teikens behaal word.

Die minister het nie uitgebrei watter “wetgewende werktuie” hy oorweeg nie, maar in Desember 2019 is ’n wetsontwerp – die Wysigingswetsontwerp op Sport en Ontspanning – gepubliseer wat onder meer bepaal dat hy die spankeuses van nasionale spanne moet kan dikteer. Dit sal ook byna alle magte van die huidige sportbeheerliggame oordra aan ’n adjunkdirekteur-generaal in dié departement.

Daar was egter prosedurele probleme met die wetgewing, met Mthethwa se departement wat eers vir ’n regsmening gevra het oor hoe die wetsontwerp moet voortgaan. Die portefeuljekomitee oor sport het in Februarie laas die wetgewing bespreek. Veronica van Dyk, DA-LP wat dien op die portefeuljekomitee, sê die DA het talle klagtes ontvang dat die departement die transformasiehandves gebruik om sportliggame en -spanne te boelie en te intimideer oor spankeuses. Hulle word glo gedreig met die weerhouding van geld waarvan hulle afhanklik is.

“Die prestasieooreenkoms tussen die president en minister Mthethwa is ook verwarrend en problematies, aangesien die federasies hul transformasiedoelwitte saamstel, wat nie noodwendig 50% is nie. Indien ’n federasie dus besluit sy kwotadoelwitte is om 30% swart spelers te akkommodeer, gaan die minister nie sy 50%-transformasiedoelwit behaal nie,” sê Van Dyk.

“Terwyl transformasie in sport ’n voortdurende projek moet wees, is gedwonge transformasie tot nadeel van die spelers en die ontwikkeling van sport.

“Transformasie kan net suksesvol wees as dit op grondvlak gedoen word om te verseker dat talent ontwikkel en dat spelers op meriete gekies word wanneer hulle provinsiale en nasionale vlak bereik.

“Transformasie in sy huidige vorm is ’n wanvoorstelling en oëverblindery en doen niks om meer ontwikkelingsgeleenthede vir jong spelers te skep nie.”

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Transformasie  |  Sportfederasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.