Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Transnet betaal honderde miljoene te veel, hoor Zondo

Transnet het honderde miljoene rande meer betaal vir ’n vervaardigingskontrak vir lokomotiewe as die koste wat aanvanklik bepaal is, het ’n sakeman Donderdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Roberto Gonsalves, ’n minderheidsdirekteur van die China North Rail- (CNR) konsortium in Suid-Afrika, se getuienis vorm deel van die kommissie se ondersoek na die omstrede tender om 1 064 lokomotiewe vir Transnet aan te koop.

Roberto Gonsalves
Roberto Gonsalves

Transnet het in 2014 ’n tender aan CNR toegeken om 232 van dié lokomotiewe te vervaardig.

Hoewel ’n span van die konsortium bepaal het dit sou goedkoper wees om die lokomotiewe in Koedoespoort buite Pretoria aanmekaar te sit, het Transnet daarop aangedring dat die proses in Durban moes gebeur.

Dit sou R9,7 miljoen meer beloop om die lokomotiewe in Durban aanmekaar te sit. Op die ou einde het dié koste egter R647 miljoen beloop, het Gonsalves Donderdag in Johannesburg getuig. Die kommissie is onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo.

Hy kan net bespiegel oor die redes vir dié astronomiese kostestyging, maar destyds het hy sy kommer teenoor die bestuur van CNR en Transnet geopper, sê Gonsalves.

Volgens hom het CNR ’n dormante maatskappy, Becks Structured Products aangestel om as bemiddelaar tussen hom en Transnet op te tree. Hoewel dié maatskappy geen ervaring in die spoorwegbedryf gehad het nie, is hy kommissie van R57 miljoen vir sy werk betaal.

“Die styging in die koste sou uiteraard die konsortium bevoordeel, maar weens die belaglike styging het die minderheidsaandeelhouers onreëlmatighede vermoed,” sê hy.

Gonsalves-hulle het die kwessie onder CNR en Transnet se aandag gebring, maar het gesukkel om terugvoering te kry. Transnet se bestuur het in Augustus 2016 met die minderheidsaandeelhouers vergader, en volgens Gonsalves het die bestuur geskok gelyk oor wat hulle gehoor het.

Transnet het toe ’n eie interne ondersoek begin en het die prokureursfirma Werksmans aangestel om die kwessie te ondersoek.

Gonsalves sal sy getuienis Vrydag voortsit.

Vroeër Donderdag het Francis Callard, ’n afgetrede ingenieur van Transnet, sy getuienis voor die kommissie afgehandel. Hy het verlede jaar ’n finansiële ondersoek gelei na die 1 064 lokomotiewe. Die koste sou aanvanklik R38 miljard beloop, maar dit het Transnet op die ou end byna R50 miljard uit die sak gejaag.

Volgens hom klop die syfers in Transnet se dokumente nie met die finale koste nie. Hy kon egter nie sê wat die rede daarvoor is nie, hoewel hy vermoed dat die syfers bekook is om die finale koste te regverdig.

Callard het teen die einde emosioneel geraak. Hoewel hy en sy kollegas by Transnet gedroom het van ’n werkende treinvervoerstelsel, sal dit nou waarskynlik ’n dekade neem om te verwesenlik, het hy getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.