Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Transnet betaal R95 m. aan firma ‘sonder werkers’

Transnet het R95,5 miljoen betaal aan ’n sekuriteitsmaatskappy van Siphiwe Nyanda, oudweermaghoof en voormalige ANC-kabinetslid, sonder dat daar enige bewyse was dat die maatskappy werknemers gehad het om enige dienste te lewer.

Die kontrak is deur Siyabonga Gama, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, onderteken.

In Gama se dissiplinêre verhoor deur Transnet het hy erken dat die kontrak met Nyanda se maatskappy, General Nyanda Security Risk Advisory Services (GNS), ’n bedrogspul was, maar die blaam op amptenare van Transnet geplaas oor die onreëlmatige kontrak wat aangegaan is.

Chris Todd, ’n direkteur van Bowmans, getuig Woensdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Skermgreep

Dít was Woensdag die getuienis van Chris Todd, ’n direkteur van Bowmans wat namens Transnet ’n ondersoek na die kontrak gedoen het, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Die kontrak is in Desember 2007 aangegaan en Gama het dit onderteken. Gama het eers in sy dissiplinêre verhoor aangevoer hy het nie ’n hegte verhouding met Nyanda gehad nie. Later het hy egter erken hy het vals inligting hieroor aan sy regsverteenwoordiger gegee nadat sy selfoonrekords gewys het hy het gereelde kontak met Nyanda gehad.

Gama het op 1 Desember 2007, vier dae voordat hy die kontrak onderteken het, per telefoon ’n gesprek met Nyanda gehad.

Transnet het Gama afgedank en die geld wat aan GNS betaal is, teruggeëis. Nadat Gama egter later in sy pos heraangestel is, is dié eis teen GNS laat vaar.

Volgens Todd het GNS volgens die kontrak ’n aanbod gemaak om sekuriteitswerk vir Transnet te doen. Dié aanbod van dienste wat gelewer sou word, is volgens Todd verkry deur algemene inligting te gebruik wat op die internet gekry is van hoe Amerikaanse sekuriteitsmaatskappye hul werk doen.

Daar is aangevoer GNS het drie afdelings – een om ondersoeke te doen, ’n ander om sake by Transnet te monitor en ook ’n afdeling om intelligensie in te samel.

Vir die sogenaamde ondersoek-afdeling is aangedui daar is ’n projekdirekteur wat maandeliks R40 000 betaal word, ’n koördineerder met ’n maandelikse salaris van R25 000, ’n bestuurder met ’n salaris van R25 000 per maand en tien ondersoekers wat R350 per uur betaal moes word.

Om sake by Transnet te monitor het GNS volgens sy kontrak ’n bestuurder R20 000 per maand en agt navorsers R310 per uur betaal.

Die intelligensie-afdeling sou glo ’n bestuurder R20 000 per maand betaal, terwyl agt hanteerders R320 per uur en 20 informante R2 000 per maand betaal sou word.

Uiteindelik is altesaam R1,577 miljoen per maand van Transnet geëis vir die werk wat GNS aangevoer het gedoen sou word.

Volgens Todd kon GNS egter geen bewyse lewer dat dit enige werknemers het nie.

Die kontrakwaarde het boonop verdubbel en die kontrak is verleng van ’n jaar na twee jaar. Uiteindelik het dit Transnet R95 miljoen gekos.

Todd het getuig met die forensiese ondersoek waarvan hy deel was, is die ergste gevrees. Nie alleen is die tender onreëlmatig aangegaan nie, maar daar was nie bewyse dat GNS enige werknemers het of enige dienste gelewer het nie.

Benewens dat GNS nie kon bewys dit het enige werknemers nie, was dit nie eens geregistreer as ’n private sekuriteitsfirma nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê ’n mens sou tog die werknemers kon sien wat op die grond ontplooi is, maar die mense is volgens die getuienis nooit eens op Transnet se terrein gesien nie.

Meer oor:  Transnet  |  Sekerheidsfirma  |  Siyabonga Gama  |  Siphiwe Nyanda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.