Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Transnet is eenvoudig besteel, sê Zondo

Transnet het ontbytsessies geborg wat deur die Guptas se koerant The New Age aangebied is – eers vir R735 000 per ontbyt, daarna vir R1 miljoen per ontbyt, en die dag toe oudpres. Jacob Zuma die spreker was, ’n volle R2 miljoen.

Dít is Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig deur Dan Phatlane, ’n bestuurder by Transnet gemoeid met betrekkinge met rolspelers.

Phatlane het getuig dat Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, sélf die “borgskap” van R15 miljoen onderteken het vir van die ontbytsessies wat The New Age aangebied het. Phatlane het gesê Molefe het nie die mag gehad om dié bedrag goed te keur nie.

Transnet is eers gevra om twee van die ontbytsessies teen R735 000 per ontbyt te borg.

Met ’n volgende kontrak het die prys na R1 miljoen per ontbyt gestyg en toe Zuma by die ontbyt gepraat het, het Transnet R2 miljoen daarvoor betaal.

Volgens Phatlane is dit gesien as goeie blootstelling vir Transnet. Die ontbyte het sowat twee uur geduur en Transnet se baniere was sigbaar toe dit op die SAUK uitgesaai is.

Adjunkhoofregter Raymond ZondoFoto: Argief

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het hierop gevra: “En wat daarvan? En wat daarvan?”

Zondo wou weet hoekom dit nodig was om Transnet te bemark. Dit is nié ’n private maatskappy nie. “Hoekom was dit nodig om belastinggeld hierop uit te gee?” wou Zondo weet.

Phatlane het geantwoord daar is mense wat dink Transnet is nog die ou Spoornet, of dit is Prasa. Daarom moet dit as handelsmerk bemark word.

Joseph Jackson, ’n interne kommunikasie-spesialis by Transnet, het Vrydag getuig dat Transnet ook genader is om ’n rubriek in The New Age te borg.

Transnet is gevra om die blad vir “The Big Interview” in ruil vir advertensieruimte te borg. Dit sou Transnet R327 000 per maand en uiteindelik R1,9 miljoen kos.

Zondo het gevra of Transnet dan kon bepaal met wie die onderhoud sou wees.

Hierop het Jackson nee gesê, dat dit bloot vir Transnet was om sy handelsnaam in advertensieruimte daarby te plaas.

Onderhoude was met mense soos die topspeurder Piet Byleveld asook emeritusaartsbiskop Desmond Tutu.

“Transnet is eenvoudig besteel. Nee, regtig,” het Zondo gesê.

“Hulle moet byna R2 miljoen betaal, net omdat daar ’n onderhoud gevoer word met iemand wat niks te doen het met Transnet nie. Mis ek iets?” het Zondo gevra, waarop

Hulle moet byna R2 miljoen betaal, net omdat daar ’n onderhoud gevoer word met iemand wat niks te doen het met Transnet nie. Mis ek iets?

Jackson geantwoord het: “Nee, dit is só”.

Zondo het gesê hy onthou dat Mcebisi Jonas (voormalige adjunkminister van finansies) voor die kommissie getuig het hy het ’n gesprek met een van die Gupta-broers gehad by hul huis waar dié Gupta-broer ’n klomp name genoem en gesê het al dié mense is “veilig”. Een van die name wat genoem is, is dié van Molefe en nog ’n naam was dié van Lynne Brown (voormalige minister van openbare ondernemings).

“So, miskien sal Molefe kom en dit verduidelik en dan kan ’n mens alles sien wat jy nie nou kan sien nie,” het Zondo gesê.

Meer oor:  The New Age  |  Zondo-Kommissie  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.