Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Transnet-man getuig oor ‘groot kommer’ oor tenderproses
Brian Molefe, voormalige Transnet-hoof.Foto: Argief/Bongiwe Gumede

Brian Molefe, voormalige Transnet-hoof, het eiehandig ’n multimiljardrand-IT-tender so bewimpel dat dit ná die toekenning aan die Neotel-maatskappy teruggetrek is en aan ’n heel ander maatskappy, T-Systems, toegestaan is.

Dit is van die getuienis wat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping Donderdag in Johannesburg aangehoor het toe Peter Volmink, hoof van nakoming by Transnet, getuig het.

Molefe het ’n memo geskryf waarin hy genoem het dat hy die Neotel-kontrak heroorweeg het weens tegniese kwessies, en dat hy die tender vir die verskaffing van IT-dienste aan T-Systems gaan hertoeken, volgens Volmink.

Volmink het op ’n vraag van adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, of Molefe die mag gehad het om die tender terug te trek en aan T-Systems toe te ken, geantwoord dit is sy mening dat Molefe nie die mag gehad het om die tender om te swaai nie. Die tender is in November 2015 geadverteer.

T-Systems is selfs toegelaat om, nadat die tender gesluit het, sy tenderprys vir die verskaffing van IT-dienste met R248 miljoen te verlaag. Die twee ander tenderaars op die kortlys, Neotel en Dimension Data, het egter nie die geleentheid gekry om dieselfde te doen nie, volgens Volmink.

Neotel het oorspronklik die hoogste tenderpunte gekry en is ingelig dat hy die voorkeur-tenderaar is. Dimension Data het die tweede beste gevaar met sy tender, en T-Systems was derde op die lys. Nadat T-Systems volgens Volmink sy tenderprys verlaag het, het dit na die plek van tweede beste tenderaar opgeskuif.

Hierna is Neotel ingelig dat hy op tegniese punte as voorkeur-tenderaar gediskwalifiseer is, en T-Systems is as die geslaagde tenderaar verklaar, het Volmink getuig.

Adv. Phillip Mokoena, wat Volmink se getuienis voor die kommissie gelei het, het gevra of Molefe enigiemand in Transnet geraadpleeg het oor sy besluit.

Volmink het geantwoord nie sover hy weet nie. Hyself is beslis nie daaroor geraadpleeg nie.

Jy kan nie nadat die tenderproses gesluit is, een van die tenderaars vra om sy prys te verlaag nie. Dit is nie hoe dit werk nie.

Zondo het hierop gesê ’n mens behoort te kan besef jy tree onregverdig op as een party bevoordeel word met ’n tender. Hy het na die sluitingsdatum van ’n tender verwys en gesê indien daar nie daarby gehou word nie, is dit nie regverdig nie.

Volgens Volmink was daar in talle afdelings van Transnet groot kommer oor Molefe se besluit oor die tender.

Hy het getuig daar is ’n bepaalde sperdatum vir elke tenderproses. “Jy kan nie nadat die tenderproses gesluit is, een van die tenderaars vra om sy prys te verlaag nie. Dit is nie hoe dit werk nie,” sê Volmink.

Hy het verder getuig oor sy bekommernis oor Transnet se verkrygingsprosesse. Een daarvan was toe die direksie begin het om in te meng by tenders en dat daar nie konsekwentheid was met die toepassing van die reëls nie.

Verder was die sogenaamde “eenman-verkrygingsrade” ’n bron van kommer, met ’n individu wat die rol van ’n hele tenderkomitee oorgeneem het.

Transnet het in 2016 ’n beleid gehad dat tenders nié deur ’n tenderkomitee toegeken word nie, maar in die hande van enkele individue berus. Die mag van ’n hele tender-toekenningskomitee is aan die finansiële hoof oorgedra wat sonder enige insae van ander Transnet-amptenare tenders van tot R1 miljard kon toeken, volgens Volmink.

Hy was ook bekommerd daaroor dat geheime tenders toegelaat is by Transnet en dat daar afgewyk is van die openbare tenderproses.

Hy sê daar was by Transnet vir ’n paar jaar die gebruik om tenders as ’n dringende noodgeval te verklaar. Dié tenders is deurgestoot in ’n geslote tenderproses.

Die kommissie sit weer Vrydag wanneer Volmink verder sal getuig.

Meer oor:  Transnet  |  Zondo-Kommissie  |  Brian Molefe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.