Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Transnet ‘stem tot al Gama se eise in’, betaal hom R17 m.

Die Transnet-direksie was in 2011 onkeerbaar in sy besluit om die afgedankte Siyabonga Gama weer aan te stel én boonop sowat R17 miljoen aan hom te betaal. Dit was as deel van ’n skikkingsooreenkoms vir ’n saak wat Transnet reeds in daardie stadium teen Gama gewen het.

Dié duur ooreenkoms is Maandagoggend genoem in die getuienis van Mafika Mkwanazi, die destydse voorsitter van die Eskom-direksie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het uitgewys daar was drie sterk regsmenings daaroor dat Gama se afdanking op goeie gronde was en dat hy nie ’n goeie kans gehad het om weer aangestel te word nie, selfs al wou hy die saak verder neem.

Daar was ’n vierde swakker gegronde regsmening waarin genoem is Gama het ’n “moontlike” kans om sy saak te wen, maar die Transnet-direksie neem toe die besluit om eerder te skik, Gama weer aan te stel en boonop miljoene rande aan hom uit te betaal.

Mafika Mkwanazi, die destydse voorsitter van die Eskom-direksie, getuig deur ’n video-skakel voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Skermgraap

Die kommissie het vantevore in die getuienis van Barbara Hogan, oudminister van openbare ondernemings, gehoor dat oudpres. Jacob Zuma vir Gama as die enigste kandidaat beskou het om die volgende uitvoerende hoof van Transnet te wees. Gama is egter afgedank weens twee kontrakte waarmee daar ernstige onreëlmatighede was wat hy as finansiële hoof van Transnet se vragafdeling afgeteken het. Die een was ’n R800 miljoen-kontrak waar Gama net mooi die teenoorgestelde gedoen het van wat die Transnet-direksie se aanbeveling was, en die ander ’n sekuriteitskontrak wat hy goedgekeur het vir die maatskappy General Nyanda Security (GNS), ’n maatskappy waarin Siphiwe Nyanda, oudminister van kommunikasie en voormalige weermaghoof, aandele gehad het.

’n Derde klag was dat Gama bestuurslede en die direksielede van Transnet onder meer daarvan beskuldig het dat hulle teen hom saamsweer en sy loopbaan wil kortknip omdat hulle hom nie as uitvoerende hoof aangestel wil hê nie.

Die Transnet-direksie, met Mkwanazi as voorsitter en leier van die onderhandelinge met Gama, het besluit dat hy moontlik sal kan slaag in sy beoogde verdere aansoek dat hy onregverdig afgedank is oor die twee tenderkontrakte. Die direksie het egter glad nie die derde klag teen Gama oorweeg toe daar besluit is hy moet heraangestel word nie, het Mkwanazi erken.

Hy het ook erken die Transnet-direksie het ’n fout gemaak met dié besluit.

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep
Adjunkhoofregter Raymond Zondo Maandag op die sitting van die kommissie. Foto: Skermgreep

Zondo het hierop gevra of dit nie verstommend is dat soveel mense van die Transnet-direksie nie die derde klag teen Gama in ag geneem het nie. “Waarom is daar nie ’n enkele persoon in die direksie wat sê wag, ons praat daarvan om Gama van die klagte kwyt te skeld en hom weer aan te stel? Kwytskelding kon nie vir die derde klag gegee word nie,” volgens Zondo.

Mkwanazi het hierop geantwoord Zondo is “in die kol”. Die fokus was op die onregverdigheid van die eerste twee klagte teen Gama, en die Transnet-direksie het die derde kwessie afgeskeep dat Gama die direksie en bestuurslede van Transnet aangeval het.

Zondo het dit gestel ’n mens sal kan sê die direksie was so gretig om Gama weer aan te stel dat hy eerder nie wou fokus op die derde klag nie, want dalk lê daar ’n rede in waarom Gama nie heraangestel mag word nie.

“Julle gee in die onderhandeling alles aan Gama, van sy kant af gee hy niks nie. Dit is asof julle hom behandel asof hy niks verkeerd gedoen het nie,” volgens Zondo. Hierop was Nkwanazi se antwoord “ja”.

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, het dit aan Mkwanazi gestel dat hy as hoofonderhandelaar met Gama persoonlik agter toe deure met hom vergader het. Daarna stem Transnet in om alles wat Gama eis, aan hom te betaal, ’n volle R13 miljoen. Dit sluit die regskoste uit wat Transnet ook aan hom terugbetaal het in teenstelling met ’n hofuitspraak dat hy in der waarheid sy eie regskoste én die van Transnet moes betaal.

Transnet het R4 miljoen aan Gama betaal vir sy regskoste, is deur Myburgh uitgewys.

Mkwanazi het getuig hy is verstom daaroor.

Myburgh het gesê maar hy was die onderhandelaar, waarop Mkwanazi geantwoord het dié bedrae was nie aan hom beskikbaar nie en hy het nie die volle prentjie gehad nie.

Zondo het aan Mkwanazi gevra wat sy antwoord sou wees indien iemand aanvoer die besluit van die Transnet-direksie is nie verdedigbaar nie.

Mkwanazi het geantwoord hy sal saamstem, want die direksie het nie die inligting oor die derde klag teen Gama oorweeg nie, en die omstandighede van dié klag behels dat ’n werknemer afgedank word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.