Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Trojaanse perd’-bloedbad 35 jaar gelede onthou

Dit was Donderdag die 35ste herdenking van die “Trojaanse Perd”-bloedbad in Athlone op 15 Oktober 1985.

Op dié dag het die spoorweg- en veiligheidspolisie, versteek op ’n spoorwegvragmotor, in Thorntonweg, Athlone afgery en op betogende jeugdiges losgebrand.

Jonathan Claasen (21), Shaun Magmoet (15) en Michael Miranda (11) is in die aanval dood, terwyl talle ander beseer of in hegtenis geneem is.

Ten spyte van ’n ondersoek na die voorval is niemand ooit vervolg nie.

Die spoorwegvragmotor wat as ’n “Trojaanse perd” gebruik is in die slagting op 15 Oktober 1985 in Athlone. Skermgreep: YouTube/www.ajuicylessonperday.net

Die polisie het destyds die hinderlaag verdedig en gesê dit was ’n noodsaaklike taktiek om die publiek teen klipgooiers te beskerm.

Dennis Cruywagen, ’n oudjoernalis wat daardie dag op die toneel was, sê hy het eerstehands gesien hoe “koelbloedig die apartheidsregering was en hoe hulle die lewe van die mense van die Kaapse Vlakte geminag het”.

“Daai trok het onder diegene wat hom gebruik het om verwoesting en dood te saai, as die spooktrok bekend gestaan. Dit het soos ’n spoorwegtrok gelyk, maar eintlik was dit ’n Trojaanse perd wat laatmiddag in Thorntonweg afgery het met kwade bedoelings.

“Ek weet, want ek was daar saam met my kollegas, die fotograaf Willie de Klerk en ons bestuurder, Bernie Cloete. Ons moes te midde van die slagting in ’n slaghuis skuiling soek.”

Cruywagen sê ná al die jare skok dit hom steeds dat ’n regering so wreed kon wees.

“Ek is bly dat die destydse ANC-stadsraad van Kaapstad ’n gedenksteen op die toneel opgerig het, sodat die gebeure steeds onthou kan word.”

Hy sê dit herinner mense “aan die bloed wat destyds in ons strate gevloei het en waarvandaan ons kom” en dat Athlone in die ’80’s ’n plek was “waar hoërskoolleerlinge vir hul vryheid geveg het teen die staat se magte”.

“Ons moet nooit die bydrae van die jeug vergeet nie.”

Cruywagen en De Klerk het later voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie oor die gebeure van daardie dag getuig.

“Daar het ek vertel hoe ek ingestem het dat Bernie Cloete lughawe toe haas om ’n bandopname van die wandaad na Londen te stuur. Dit is daai einste televisie-beeldmateriaal wat daardie selfde aand nog die hele wêreld geskok het en die wreedheid van die apartheidsregering eens en vir altyd ontbloot het.”

Anroux Marais, Wes-Kaapse LUR vir sport en kultuur, sê by navraag die slagting in Athlone in 1985 “is ’n kenmerk van ons onstuimige verlede en die afgryslike voorvalle van ’n onregverdige stelsel wat erken moet word om die jonger geslagte te herinner aan hierdie gruwelike dade om enige herhalings te voorkom, aangesien daar geen ruimte daarvoor is in ’n demokratiese samelewing nie”.

“Vandag is herdenkings van hierdie aard meer as ooit tevore noodsaaklik om ’n emosionele raamwerk te skep om sin te maak van ons verdeelde verlede,” het Marais gesê.

Sy sê haar departement probeer vertroue opbou, om botsende sienings en belange te oorbrug, om hindernisse en struikelblokke te oorkom met dinamiese en innoverende benaderings wat nodig is om die waardes wat in enige transformasieproses ingebed is, te verstaan.

“Op hierdie manier bevorder ons saam die sosiale insluiting van almal wat die Wes-Kaap hul tuiste noem,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.