Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Trollip wou DA-lid omkoop om te spioeneer’
Van links is James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, Athol Trollip, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, en sy vrou, Janine. Hulle verlaat Dinsdagmiddag die hof in Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, is Dinsdag in die streekhof in Port Elizabeth daarvan beskuldig dat hy Nontuthuzelo Jack, ’n voormalige DA-aktivis, nie regverdig verhoor het nie.

Selfe het getuig oor sy ondersoek na Jack se aantygings dat Athol Trollip haar in die aanloop tot die munisipale verkiesing in 2016 probeer omkoop het.

In ’n nuusberig wat op 23 Maart 2016 verskyn het, het Jack beweer Trollip wou haar omkoop om op Veliswa Mvenya, voormalige provinsiale voorsitter van die DA, te spioeneer. Trollip wou glo hê Jack moet onsmaaklike inligting oor Mvenya opdiep.

Luidens ’n beëdigde verklaring wat Jack aan Selfe verskaf het vir sy ondersoek, beweer sy Trollip het haar die oggend gebel. Op Sondag 20 Maart 2016 het Trollip, in ’n donkerblou motor en met ’n DA-baadjie aan, haar voor die Motherwell-polisiekantoor ontmoet. Hy het glo gesê hy sal haar betaal om op Mvenya te spioeneer.

Selfe sê ná afloop van sy ondersoek het hy die gevolgtrekking gemaak dat Jack se aantygings ongegrond en onwaar is. Trollip het daarna ’n saak van crimen injuria teen Jack aanhangig gemaak.

Adv. Eric Skepe, Jack se regsverteenwoordiger, het gesê Selfe het Jack nie regverdig verhoor nie, en wou net die DA beskerm deur slegs getuies te ondervra wat ten gunste van Trollip is.

Selfe het geantwoord dat hy genoeg getuies gehad het wat kon bewys dat Trollip daardie naweek in Port Alfred was en nie in Port Elizabeth nie.

Hy het benadruk dat Jack tydens die ondersoek volgehou het dat sy Trollip op ’n Sondag ontmoet het.

Maar die hof het Dinsdag gehoor dat ’n hele gemeente sal kan getuig dat Trollip dié Sondag in ’n kerk in Port Alfred was.

Jomari du Toit, staatsaanklaer, het Trollip se vrou, Janine, as ’n getuie geroep.

Nontuthuzelo Jack, wat van crimen injuria aangekla word, stap uit die hof met haar gebalde vuis omhoog. Foto: Lulama Zenzile

Sy het gesê sy en Trollip was daardie naweek in Port Alfred, waar sy ’n huis het, om haar seun op die Pineapple-kriekettoernooi te ondersteun. Hulle het die Vrydagmiddag na Port Alfred gery, Saterdag van vroeg die oggend tot laat die aand by die toernooi deurgebring, en is die Sondagoggend kerk toe.

Sy het gesê Trollip het ná die kerkdiens ’n getuienis in die kerk afgelê. Sy het foto’s daarvan aan die hof verskaf.

Skepe was egter nie oortuig nie en het in kruisondervraging vir Janine gevra hoe laat Trollip soggens wakker word, hoeveel selfone hy besit en wat hy daardie Sondag aangetrek het.

Janine het geantwoord Trollip is gewoonlik voor haar wakker. Hy was daardie Sondag die heeltyd by haar en hy het soos gewoonlik vir haar tee gemaak voor die kerkdiens. Sy het gesê Trollip het net een foon, maar sy kan nie presies onthou watter klere hy daardie dag aangehad het nie.

Du Toit het uitgewys dat Jack se selfoonrekords wys sy het die dag geen oproepe van Trollip se selfoonnommer af ontvang nie.

Die saak is tot 12 Julie uitgestel.

* Mongameli Bobani, voormalige adjunkburgemeester van Nelson Mandelabaai, sê hy het die verhoor bygewoon om te hoor wat die hof oor die “baie ernstige aantygings” teen Trollip te sê het. Hy wil ook weet wat die DA se stappe teen Trollip sal wees indien dit blyk Jack praat die waarheid.

Trollip het buite die hof gesê hy vermoed Bobani dink: My vyand se vyand, is nou my vriend. Hy sê Bobani het met Jack en haar regsverteenwoordiger gepraat, wat vir hom ongewoon is, maar ook sy vermoede versterk dat die aantygings teen hom deel van ’n politieke smeerveldtog is.

Bobani is verlede jaar uit sy amp verwyder nadat die raad ’n mosie van wantroue in hom aanvaar het.

Meer oor:  Da  |  Omkoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.