Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tshwane kry ’n EFF-burgemeester met ANC-hulp, sê Malema

Die EFF het ’n ooreenkoms met die ANC bereik oor ’n EFF-burgemeester vir Tshwane.

So het Julius Malema, leier van die EFF, Donderdag in ’n onderhoud met Netwerk24 beweer.

“Die ANC het vanoggend teruggekom en gesê ‘ouens, ons het mekaar dalk nog nie in Johannesburg gevind nie, maar ons is saam in Tshwane. Wat ons ook al doen, gaan ons saam doen en ons sal mekaar steun. Ons gaan Tshwane regeer. Net julle en die ANC’,’’ sê Malema.

“Ons het niemand in Tshwane nodig nie. Net onsself en die ANC, selfs al gaan die (res van die) opposisie saam met die DA, is ons in.”

Ons het niemand in Tshwane nodig nie. Net onsself en die ANC, selfs al gaan die (res van die) opposisie saam met die DA, is ons in.

Malema sê die gesprekke het gespruit uit die party se onderhandelinge met die ANC oor burgemeesterskap in die Johannesburg- en die Tshwane-metro.

Hy sê ondanks die feit dat die EFF nie die kandidatuur gesteun het van Geoff Makhubo, wat Woensdag tot uitvoerende burgemeester van Johannesburg verkies is nie, “is die EFF en die ANC een in Tshwane”.

“Ons het aan die ANC gesê ons wil hom (Makhubo) nie hê nie, en die ANC het probeer (om ’n ander kandidaat te kry) maar die laer strukture (van die party) het geweier.”

Malema se opmerkings kom teen die agtergrond van die DA se veelparty-regering wat Woensdag in Johannesburg in duie gestort het nadat van sy amptelike alliansievennote hulle eerder by die ANC geskaar het.

Die Tshwane-raad is saamgestel uit 214 setels, waarvan die DA tans 93 het, die ANC 89 en die EFF 25.

Die DA se formele koalisievennote het altesame ses setels (die VF Plus vier en die ACDP en Cope elk een).

As die ANC saam met die EFF stem, sal Malema se party 114 stemme hê teenoor die DA en al sy formele koalisievennote se 102. ’n Totaal van 108 stemme (50% plus 1) is nodig vir ’n meerderheid.

John Moodey, DA-leier in Gauteng, sê sy party en hul formele koalisievennote sal nie genoeg stemme hê om ’n “gekombineerde ANC-EFF-stemming te voorkom nie”. Hy sê sy party sal demokratiese prosesse toelaat om in die raad te ontvou.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het egter Donderdag aan Netwerk24 gesê dat sy party se gesprekke met die EFF oor die Tshwane-burgemeesterskap voortgesit word.

“Die EFF het dit met ons bespreek. Hulle wil hul eie burgemeester hê en ons het nog nie daaroor ooreengekom nie. Ons het wel ooreengekom om ’n mosie van wantroue teen die speaker in te stel,” het Magashule gesê.

Lees ook: DA verloor beheer oor Tshwane

Malema het weer bewerings ontken dat geld wat van VBS Mutual Bank gesteel is, gebruik is om die EFF en die lewenstyl van sy leiers te finansier.

“Dit is absolute twak, dit het vir Floyd (Shivambu, onderleier van die EFF) ’n kar gekoop, dit het vir Floyd se broer ’n huis gekoop, of ’n restaurant gebou. Iemand is desperaat om die goeie naam van die EFF-leierskap te beswadder. Ons het geen VBS nodig nie,” het Malema gesê.

“Dit is ’n daad van desperaatheid en dit is waarom dit ons nooit enige slaap sal laat verloor nie.”

Meer oor:  Julius Malema  |  Tshwane Metro  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.