Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Tshwane kry waarskynlik ook gou ANC-burgemeester’
John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA. Foto: Elizabeth Sejake

Die Tshwane-metro gaan waarskynlik dieselfde pad as Johannesburg stap en binnekort ook ’n ANC-burgemeester kry, sê John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA.

Steenhuisen en ander DA-leiers het Donderdag in die parlement op ’n nuuskonferensie ’n parlementêre oorsig van 2019 gelewer en gesê “dit is ’n jammerte siende dat daar magte is wat saamspan om Tshwane ook terug te vat”.

Vroeër is berig dat daar Donderdag ’n spesiale raadsvergadering in die Tshwane-metro gehou gaan word om die ANC se dringende mosie van wantroue teen Stevens Mokgalapa, die DA-burgemeester, te oorweeg. Mokgalapa is tans in die spervuur oor ’n klankopname van hom en Sheila Senkubuge, voormalige burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, waarin hulle onder meer sekere kollegas beskinder en maniere bespreek om ander af te dank.

Steenhuisen is Donderdag gevra of die jongste verwikkelinge in Johannesburg, waar Geoff Makhubo Woensdag die nuwe ANC-burgemeester geword het, ook in Tshwane kan afspeel.

Hy het geantwoord daar “is ’n groot waarskynlikheid dat ons ’n soortgelyke resultaat in Tshwane gaan hê”.

“Dit is jammer siende dat daar magte is wat saamspan om Tshwane ook terug te vat.

“Maar soos in Johannesburg gaan ons daardie regering ook verlaat met ’n paar suksesse soos die finansiële regruk van die metro en die stabilisering van die dienslewering daar.

As ons uitgestem word, sal ons uit die opposisiebanke steeds doen wat van ons vereis word.
Geoff Makhubo
Geoff Makhubo, pasverkose burgemeester van Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Volgens Steenhuisen is die DA nie bereid om net te regeer ter wille daarvan om te regeer nie.

“As ons uitgestem word, sal ons uit die opposisiebanke steeds doen wat van ons vereis word.”

Steenhuisen het bygevoeg dat sy party meen dat twee DA-raadslede teen die party se wil gehelp het om Makhubo as nuwe burgemeester van Johannesburg in te stem.

“Omdat daar ’n geheime stemming was, gaan dit baie moeilik wees om te bepaal wie presies betrokke was by dit wat ek glo hoogverraad is.”

Die DA ondersoek dit tans.

Steenhuisen sê hy is uiters teleurgesteld, maar die betrokke DA-raadslede se gedrag is deel van ’n “toksiese” kultuur in die party die laaste twee jaar.

“Ek is as leier van plan om dit trompop te pak. Kiesers is moeg daarvoor om te sien hoe DA-mense teen mekaar baklei pleks van om vir die kiesers te veg.”

Volgens hom het hy dit aan alle DA-topstrukture en -koukusse duidelik gemaak dat interne swak dissipline die party se grootste hindernis is op die pad om ’n nasionale regering te word.

“As ons ernstig daaroor is om die alternatief in Suid-Afrika te wees, vereis dit streng interne dissipline.”

Steenhuisen sê voortaan gaan baie sterk opgetree word teen enige DA-lid wat hom of haar aan swak dissipline skuldig maak. “Ons kan eenvoudig nie voortgaan met daardie kultuur nie.”

Hy sê hy het hom verbind tot “veilige plekke” in alle DA-strukture waar gegriefde DA-lede hul kommer openlik kan uiter. So wil hy keer dat DA-lede optree soos in Johannesburg. Dit is nie net skadelik vir die DA-koukus nie, maar ook vir die inwoners van die gebied.

Oor 2019, waar Mmusi Maimane as partyleier, en Herman Mashaba, as Johannesburgse burgemeester bedank het, het Steenhuisen “eerlik en reguit” gesê “dit was nie ’n goeie jaar vir die DA nie”.

“Maar ons kan in ’n hoekie gaan sit en die jaar betreur of ’n streep daardeur trek en aanbeweeg. Ons gaan egter aanpas en hard werk om die party te hervorm tot ’n moderne, progressiewe organisasie wat slaggereed vir die plaaslike verkiesings in 2021 sal wees. Dit is my doelwit as DA-leier om ’n oog te hou oor waar ons moet wees en wat die beste manier is om daar te kom.”

Meer oor:  John Steenhui­Sen  |  Tshwane-Metro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.