Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
TV-lisensiegeld noodsaaklik vir SAUK, hoor komitee

Televisielisensies is van kritieke belang vir die SAUK.

Bongumusa Makhathini, voorsitter van die SAUK-raad, het Dinsdag dié stelling in die parlement gemaak toe hy deur LP’s uitgevra is oor sprake dat die tarief kan styg.

Topbestuurslede van die SAUK asook lede van die raad het ’n voorlegging oor die regrukstrategie aan die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie gelewer.

Bongomusa MakhathiniFoto: DAILY SUN

Parlementslede het gehoor dat die SAUK einde 2018 ’n versoek aan Stella Ndabeni-Abrahams, minister kommunikasie, gerig het vir ’n aanpassing. Dit is nie duidelik wat die versoek behels nie.

Tans kos ’n TV-lisensie R265 per jaar.

Ingevolge die Uitsaaiwet is die minister die enigste persoon wat só ’n verhoging kan goedkeur.

Makhathini het daarop gewys dat advertensies en borgskappe – altesaam 84% – die SAUK se grootste bron van inkomste is.

TV-lisensies dra 15% by tot die SAUK se inkomste, terwyl die regering se bydrae 3% is.

“Ek wil nie hê LP’s moet dink dat die SAUK met TV-lisensies kan wegdoen nie, want dit is die naasgrootste inkomstebron.”

Hy wou by parlementslede weet hoeveel hulle iemand betaal wat by ’n winkelsentrum hul motor oppas. “Sekerlik betaal julle hulle meer as 72c. Teen 72c per dag kan daar nie regtig regverdiging wees om te sê TV-lisensies is te duur nie.

“Eintlik is daar meer Suid-Afrikaners wat meer as R1 per dag kan bekostig. As jy meer as 72c per dag betaal aan ’n man wat jou motor oppas, wat van die SAUK wat vir jou 19 radiostasies en vyf televisiekanale gee en wat ’n kritiek belangrike mandaat ten opsigte van die opvoeding, inligting en vermaak van die algemene publiek het.”

Daar is volgens hom dalk ruimte vir ’n debat of ’n voorstel dat hulpbehoewendes deur middel van ’n wetswysiging beskerm word.

“Maar soos dinge nou staan, is TV-lisensies noodsaaklik.”

Makhathini het ook gesê dat die lewe van sommige hoofde by die SAUK bedreig word weens die regrukstrategie.

Daar was vroeër ’n aanslag op die lewe van die hoof van die interne forensiese eenheid.

Die veiligheidsafdeling van die SAUK is volgens Makhathini genader om ’n ontleding van die veiligheid van die hoofde in sleutelposisies te doen wat aan die voorpunt van die regrukoperasie en hernuwing is.

“Dit is bevestig dat mense bedreig word. Trouens, bykans almal is aangeraai om beskerming te hê oral waar hulle gaan.”

’n Verslag hieroor is nog nie aan die raad voorgelê nie, het Makhathini gesê, maar ’n basiese kosteberekening dui daarop dat dit baie sal kos.

Hy het ook gesê die SAUK het meer as R1 miljard bespaar. “Dus, wanneer julle die opskrifte sien, moenie paniekbevange raak nie – ons is besig om skoon te maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.