Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Twis dreig oor Tito se plan

’n Hewige twis laai op in die ANC oor die ekonomiese beleidsdokument wat Tito Mboweni, minister van finansies, glo die land uit sy huidige ekonomiese krisis kan lei.

Dit is voorverlede week gepubliseer.

’n Alternatiewe ekonomiese beleidsdokument wat die afgelope maande opgestel is in opdrag van Rob Davies, voormalige minister van handel en nywerheid, is die afgelope week in die ANC, Cosatu en die SAKP versprei.

’n Verkorte weergawe daarvan is Vrydagmiddag – met skerp kritiek op Mboweni se dokument – in die ANC se nuusblad, ANC Today, gepubliseer.

‘Voorstel bied geen stimulus vir groei.’

Die opsteller daarvan, dr. Asghar Adelzadeh, het reeds maande gelede Mboweni se dokument onder oë gehad, want Mboweni se voorstelle is geruime tyd gelede in die nasionale tesourie saamgestel as ’n interne gespreksdokument.

Adelzadeh, ’n ekonoom, sê ekonomiese modellering toon dat Mboweni se voorstel feitlik geen verskil aan die ekonomie sal maak nie en geen uitwerking op werkloosheid sal hê nie, omdat daar geen stimulus vir groei is nie.

Terselfdertyd beraam Mboweni planne vir besparings van tot R300 miljard in staatsbesteding wat hy in Oktober in die mediumtermynbegrotingsraamwerk wil afkondig en wat ekonomiese groei nog meer kan demp, vrees die kritici.

Dr. Michael Sachs, voormalige adjunk-direkteur-generaal van finansies en hoof van die tesourie se begrotingskantoor, het hom ook Vrydag teen Mboweni se plan uitgespreek.

“Ek is bekommerd dat die plan swaar steun op ’n vinnige toename in uitvoer terwyl die wêreldekonomie baie swak is. Sy plan sal private beleggings waarskynlik beperk. Sy plan steun op ’n vinnige toename in uitvoer, wat naïef is in die huidige swak vraag in die wêreldekonomie. Dit hou ernstige gevare in vir ons betalingsbalans,” sê Sachs.

In teenstelling met Mboweni se plan om besparing in te stel, stel Adelzadeh groter staatsbesteding voor, onder meer indiensneming van talle werkloses en verslapping in monetêre beleid. Sy voorstelle het sterk ooreenkomste met voorstelle wat Cosatu in die 1990’s aan die regering probeer opdwing het, hoewel dit glad nie in die sosialiste styl en taalgebruik uitgedruk word wat Cosatu destyds gebruik het nie.

Ebrahim Patel, Davies se opvolger as minister van handel en nywerheid, is nou amptelik die eienaar van dié dokument, maar het tot dusver niks daaroor gesê nie. ’n Onberispelike bron in Cosatu sê egter Patel sal minstens gedeeltes van die dokument steun wanneer dit intern in die ANC bespreek word.

’n Bron in die nasionale tesourie sê Mboweni se voorstelle was ’n goeie grondslag vir interne gesprekvoering in die nasionale tesourie, maar moes nooit bekend gemaak geword het voordat ander rolspelers in die kabinet en in die ANC se alliansievennote daarby ingekoop het nie.

“Soos ’n mens sou verwag, is Mboweni se dokument in die openbaar met groot steun deur die DA en die georganiseerde sakesektor ontvang, maar deur niemand anders nie. In die binnekringe van die regering en in die ANC het belangrike rolspelers ernstige bedenkinge daaroor.

“Al wat Mboweni reggekry het, is om die nasionale tesourie verdag te maak as uit pas met die res van die regering. Dit gebeur terwyl die land midde-in ’n ekonomiese krisis is waarin die nasionale tesourie die rol van fasiliteerder moet speel om almal te laat saamwerk,” sê die bron.

Volgens hom is daar in die regering algemene instemming oor die meeste van die voorstelle in Mboweni se dokument, hoewel daar beslis nie in die ANC eenstemmigheid daaroor is nie.

“Ekonomiese beleid is nie ons probleem nie. Ons weet wat gedoen moet word. Die probleem is om rubber op die teer te kry sodat ons aan die gang kan kom. Die publikasie van die Mboweni-dokument het dit moeiliker gemaak.”

Op ’n WhatsApp-groep van ekonomiese ontleders in die ANC word die kernuitdagings uitgespel: hervorming van Eskom en die energiebedryf, hervorming van die telekommunikasiebedryf, onderwys-hervorming en grond- en landbouhervorming.

“As ons net een hiervan in die volgende vyf jaar kan regkry, sal ons baie goed vaar. Eskom is ’n massiewe, ingewikkelde en moeilike probleem. Eskom en die staat se salarisrekening is die dinge wat ons nou moet wakker hou – nie ekonomiese beleid nie,” sê een van die deelnemers in dié groep.

Die bron in Cosatu sê die vakbond­federasie sal uiteindelik moet instem dat minstens sommige van Eskom se kragstasies geprivatiseer sal moet word, soos wat Mboweni voorstel.

“Dis duidelik dat Eskom in ’n groot krisis is en dat minstens sommige van die kragstasies verkoop sal moet word, maar eers nadat die nasionale netwerkmaatskappy uit Eskom ontknoop is. Dit kan nie blindelings gedoen word nie. Ons moet eers oor ander dinge eenstemmigheid kry. En dit gaan nou éérs ’n groot geveg afgee,” sê die bron.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.