Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Twitter sê ANC moet gou #Voetsek

’n Mediaveldtog om die reputasie van die ANC te probeer red, het Vrydag skouspelagtig in die regerende party se gesig ontplof.

Dr. Bandile Masuku

Nadat verskeie ANC-figure by bedenklike tenders vir persoonlike beskermende toerusting (PBT) betrek is, het ’n ANC-beeldpoetser Vrydag in ’n WhatsApp-boodskap vir hulp gevra om die “aanval” op die ANC met ’n “massiewe sosialemediaveldtog” te help afweer.

“Die ANC is onder beleg, en dit is ons verantwoordelikheid om dit te beskerm,” het die boodskap gelui.

Deelnemers is gevra om drie hartjies in ANC-kleure by hul boodskappe op Twitter en ander sosialemediaplatforms te voeg saam met die hutsmerk #ANCFriday. “Ek probeer nie korrupsie goedpraat wat oënskynlik algemeen voorkom nie, (maar die) ANC het niks gedoen nie, dit is sekere individue wat die organisasie in oneer bring,” het die boodskap gelui. Dit is nie duidelik wie dit gestuur het nie.

Kabinetslede en regeringswoordvoerders het hul revolusionêre plig uitgevoer: Fikile Mbalula, minister van vervoer, Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, Athi Geleba, woordvoerder in die presidensie en Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement van justisie, het almal aan die veldtog deelgeneem.

Vir ’n rukkie was ANC-hartjies oral – totdat die res van die land besef het wat aangaan en #ANCFriday met #VoetsekANC begin beveg het. Honderde foto’s van puttoilette en ANC-kaders in luukse voertuie is rondgestuur.

’n Twiet van Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, wat wat Vrydag gestuur is in ooreenstemming met ’n veldtog om die “beeld van die ANC te beskerm”.

Die #VoetsekANC-veldtog het verdere stukrag gekry toe die nuuswebblad Daily Maverick se ondersoekeenheid, Scorpio, berig het Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, se seuns het ’n regeringstender in die Vrystaat losgeslaan. Tshepiso en Thato Maga­shule het kontrakte ter waarde van ongeveer R2,7 miljoen gekry om dienste in die provinsie te lewer waar hul pa premier was.

Dit het ook die afgelope week aan die lig gekom dat Katleho Mokonyane, dogter van die voormalige kabinetsminister Nomvula Mokonyane, in Maart ’n kontrak ter waarde van R2,79 miljoen by die Gautengse regering gekry het om PBT te verskaf.

Boonop is dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, die afgelope week deur die ANC in Gauteng op verlof geplaas terwyl tenderongerymdhede rakende PBT in sy provinsie ondersoek word. Daar word beweer Thandisizwe Diko, die eggenoot van pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Khusela Diko, het kontrakte ter waarde van R125 miljoen by Masuku se departement gekry.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek die vooval.

David Makhura, Gautengse premier, het Dinsdag bekend gemaak korrupsie ter waarde van R1 miljard met PBT-tenders word ondersoek. Altesaam 102 ondernemings word betrek.

Gauteng se departement van gesondheid het tussen Maart en Julie 167 tenders vir PBT toegestaan, waarvan die grootste aan Diaane Consulting Services gegaan het vir R159 miljoen.

Ook maatskappye wat die pryse van PPE kunsmatig verhoog, word deur die SOE ondersoek.

Terwyl die gesondheidsdepartement in die Wes-Kaap R125 per liter handreiniger betaal, skaf KwaZulu-Natal dit aan teen R183 per liter. Die Chris Hani-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap dok R350 per liter op en die J.B. Marks-munisipaliteit in Noordwes meer as R750 vir ’n liter handreiniger.

Lede van die SOE het Donderdag ’n beslagleggingsoperasie in die kantore van die Matzikama-munisipaliteit in Vredendal en in die Beaufort-Wes-munisipaliteit in die Karoo uitgevoer.

Die Wes-Kaapse tesourie het die afgelope week ’n dokument uitgereik waarin alle inligting oor PBT-aankope in die provinsie vervat word. Dit wys die Wes-Kaapse regering het al meer as sowat R437 miljoen daaraan bestee.

Die verslag wys ook presies wat vir elke enkele masker in die provinsie betaal is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.