Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Tyd om oor UDF te besin, sê Carolus
Cheryl Carolus, voormalige hoofbestuurslid van die UDF in die Wes-Kaap, sing saam by die UDF se 33ste herdenkingsjaarvieringe in Kaapstad. Foto: Jason Felix

Harde voetstampe, die sing van struggleliedjies, ’n gedans en gebalde vuiste in die lug van mense wat die amandla-kreet luidkeels skree.

Versier met pamflette en baniere het die UDF, die eens magtige versetbeweging, Saterdag sy 33ste herdenkingsjaar gevier.

Die verenigde front se leuse: “UDF unites, apartheid divides”, is in so te sê elke sin van die sprekers geopper.

Cheryl Carolus, voormalige hoofbestuurslid van die UDF in die Wes-Kaap, het by die vieringe gesê die ANC is tans op sy kwesbaarste.

“Die ANC het uit hul foute geleer in die verkiesing. Dit maak seer dat die DA nou tans in groot gebiede regeer. Die grootste reg waarvoor baie van ons geveg het, was om te stem. En om my stem net so vir ’n ander party te gee, een wat saamgestel is uit die apartheidsgeledere, dit is nie reg nie. Ek kan dit nie doen nie,” het Carolus gesê.

Sy meen die Wes-Kaap is een van die provinsies waar rassisme en wit heerskappy gekoester word.

Daar is bittermin vroue in Zille se kabinet en dit is die party wat tans belangrike stede van ons land regeer.
Cheryl Carolus

“Dit kan nie reg wees dat die leier van die provinsie (Helen Zille) die woord immigrante gebruik wanneer sy verwys na mense wat van ander dele van die land na die provinsie toe kom. Daar is bittermin vroue in Zille se kabinet en dit is die party wat tans belangrike stede van ons land regeer,” het Carolus gesê.

Die UDF was ’n beweging wat die drome van ’n reënboognasie gedra het.

Die organisasie het in sy gloriejare ’n belangrike rolspeler in die samestelling van ’n nuwe Suid-Afrika geword.

Die UDF se grootste krag was gesetel in sy nierassigheid en sy betrokkenheid op grondvlak, wat dit makliker gemaak het om mense te mobiliseer.

“By openbare vergaderings het ons almal se taal gepraat. As ons in Bonteheuwel was, het ons nie net Afrikaans gepraat nie. Daar was Engels gepraat vir ons wit kamerade en Xhosa vir ons swart kamerade,” het Carolus gesê.

Die UDF het as ’n sambreelorganisasie vir vakbonde, studenteorganisasies, plaaslike sportliggame en kultuurgroepe gedien.

Ek kyk na ons leiers vandag. Hulle slaap in hotelle en ry in duur motors.
Cheryl Carolus

Daar was meer as 600 organisasies en meer as 2 miljoen ondersteuners.

Die leierskorps het bestaan uit gewone mense.

“Ek kyk na ons leiers vandag. Hulle slaap in hotelle en ry in duur motors. Ons het by gewone UDF-lede se huise oornag en dit het die verhouding tussen ons en lede versterk,” het Carolus gesê.

Hoewel die UDF ’n kollektiewe leierskap gehad het, staan die naam Allan Boesak prominent uit.

Boesak, ’n toegewyde Godsman, het die gesig van die UDF geword, maar name soos Desmond Tutu, Helen Joseph, Frank Chikane, Popo Molefe, Oscar Mpetha, Albertina Sisulu, Christmas Tinto, Murphy Morobe, Mohammed Valli Moosa, Archie Gumede, Fatima Meer, Farid Esack, Joe Marks, Terror Lekota, Ebrahim Rasool, Johnny Issel en Trevor Manuel, het ook uitgestaan.

Intussen het Faiez Jacobs, Wes-Kaapse ANC-sekretaris, gesê dit is ’n perfekte tyd om terug te kyk en na te dink waarvoor die UDF staan en hoekom dit gestig is.

Baleka Mbete, ANC- nasionale voorsitter, het gesê die ANC gaan opnuut begin om hul geloofwaardigheid te herstel na die knoue in die munisipale verkiesing.

Meer oor:  Udf  |  Cheryl Carolus  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.