Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘UDM steun nie grondvergrype, maar verstaan die nood’

Die United Democratic Movement (UDM) ondersteun nie onwettige grondbesetting nie, maar verstaan die desperate situasie van mense sonder grond.

Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, luister die afgelope week na inwoners wat onwettig in ’n gebied in Motherwell woon en dienslewering eis. Foto: Lulama Zenzile

Bantu Holomisa, UDM-leier, en die party se topleiers was die afgelope naweek in Port Elizabeth om hul verkiesingsmanifes by die Isaac Wolfson-stadion in KwaZakhele bekend te maak.

Mongameli Bobani, adjunkvoorsitter van die UDM in die Oos-Kaap, is ook die burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, waaronder Port Elizabeth val. Dit is die enigste munisipaliteit in die land waar ’n UDM-raadslid ’n burgemeester is.

Sedert Bobani in Augustus tot burgemeester verkies is, nadat Athol Trollip en die DA-koalisieregering deur ’n mosie van wantroue uitgestem is, het hy verskeie kere gesê onwettige uitsettings, waar daar nie ’n hofbevel is nie, sal nie onder sy “swart-koukus-regering” gebeur nie.

In ’n komiteevergadering einde Januarie van die metro se afdeling vir menslike nedersettings is daar besluit die metro gaan wel dienste verskaf aan mense wat onwettig op grond woon. Minstens 20 informele buurte, waar grond onwettig beset word, sal voordeel trek uit die besluit deur basiese dienste soos water, elektrisiteit en rioolstelsels te kry.

In KwaNobuhle het Bobani ook beveel dat plakkers se boumateriaal teruggegee word nadat werknemers van die metro hul plakkershutte afgebreek het.

By navrae het Bongani Maqungwana, adjunk-sekretaris-generaal van die UDM, gesê die UDM moedig geensins grondbesetting aan nie, “maar daar waar mense reeds grond beset het, moet daar na hul griewe geluister word, die situasie moet verstaan word en oplossings moet gevind word”.

Maqungwana sê Bobani se besluit om nie grondbesetters te verwyder nie, is nie die besluit van die UDM nie, maar hy verstaan Bobani se besluit.

Plakkershutte verrys op ’n stuk oop grond in KwaNobuhle buite Uitenhage, nadat Mongameli Bobani, Nelson Mandelabaai-burgemeester, beveel het dat die plakkers se boumateriaal teruggegee word nadat werknemers van die metro hul plakkershutte afgebreek het. Foto: Lulama Zenzile

“Met die hele grondonteieningsituasie wat aan die gebeur is, gryp mense grond en bou plakkershutte. Dit is baie moeilik om mense te verdryf, want waarheen verdryf jy hulle?”

Holomisa het Saterdag in sy toespraak gesê die UDM ondersteun grondhervorming en grondverdeling, maar sê daar is steeds te veel onbeantwoorde vrae rondom die wetgewing, indien art. 25 van die Grondwet gewysig word om grondonteiening sonder vergoeding ’n werklikheid te maak.

Maqungwana sê verder daar moet na onwettige grondbesetters geluister word, eerder as om hulle met die polisie en traangas te verjaag.

Mncedisi Filtane, LP en nasionale adjunkvoorsitter van die UDM, het ook by navrae gesê mense wat grond onwettig beset, doen dit uit desperaatheid.

“Ons is maatskaplike demokrate, ons glo in die voorsiening van mense se maatskaplike benodigdhede op ’n demokratiese manier.”

Bongani Maqungwana, adjunk-sekretaris-generaal van die UDM. Foto: Cara-Lee Dorfling
Mncedisi Filtane, LP en nasionale adjunkvoorsitter van die UDM. Foto: Cara-Lee Dorfling
Bantu Holomisa, UDM-leier, praat Saterdag by die Isaac Wolfson-stadion in KwaZakhele in Port Elizabeth, waar hy dié party se verkiesingsmanifes bekend gemaak het. Foto: Lulama Zenzile

Daar is miljoene mense wat nie ’n huis óf ’n voldoende sakeperseel het nie en mense wat grond beset, doen dit waarskynlik uit nood, sê Filtane.

“Niemand staan net eendag op en besluit hulle gaan nou grond beset nie. Dit is ’n verskriklike desperate situasie.”

Hy voel dit maak sin dat Bobani gesê het hy sal nie mense verdryf nie en eerder ’n manier kry om hulle gemaklik te maak daar waar hulle is.

“Ons glo die regering moet meer doen. Mense wat grond gryp, bewys dat die mense vertroue in die regering verloor.”

’n Situasie waar ’n swart persoon aan die deur van ’n wit persoon gaan klop en sê hy wil hom uit die huis hê, is egter nie ’n situasie wat ooit deur die UDM aangemoedig sal word nie, voeg Filtane by.

“Maar waar grond beset word, moet die regering inklim en help om mense te vestig.”

Hy sê meer moet ook gedoen word om mense met titelaktes te bemagtig.

“Daar waar mense grond besit, met titelaktes, het hulle ’n gevoel van eienaarskap. Sulke gebiede word deur die inwoners beskerm.”

Oor die algehele leierskap wat Bobani in sy amp toon, het Maqungwana gesê die party is baie tevrede, maar erken Bobani sal hom voortaan op drie gebiede moet toespits.

“Hy sal nou meer werkskeppingsprogramme moet oorweeg. Hy moet ook die gemeenskappe identifiseer wat swak dienslewering het en dit verbeter, asook hul lewensomstandighede.

“Dan is daar die droogte wat die Oos-Kaap verlam. Hy moet die situasie monitor en voorsorgmaatreëls in plek kry om ’n Dag Zero vir die munisipaliteit te vermy.”

Meer oor:  Udm  |  Bantu Holomisa  |  Port Elizabeth  |  Grondgrype
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.