Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Uit perd se bek: Dís waar ANC met Steenhuisen staan

Die DA sal ter wille van ’n agenda vir hervorming met die ANC saamwerk, het John Steenhuisen, DA-leier, gesê.

“Ek het egter in geen stadium in daardie onderhoud (met Sunday Times) gesê dat ons (die DA) in ’n koalisie met die ANC, soos dit vandag staan, sal gaan nie,” het hy gesê.

Hy het Woensdagoggend saam met Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, deelgeneem aan ’n spesiale regstreekse uitsending op sosialemediaplatforms van die DA se The Inside Track-program om aan die land te verduidelik waar presies die party staan in terme van koalisies, herskikking van die politiek in Suid-Afrika en hoe mense byeengebring kan word om ’n nuwe meerderheid rondom gedeelde waardes te kan vorm.

John Steenhuisen, DA-leier. Foto: Gallo Images

Dít kom nadat die party sedert Sunday Times se publikasie van sy onderhoud met Steenhuisen moes rondval om sy ware posisie oor koalisies te verduidelik. Die koerant het die naweek berig dat die DA “die deur geopen het vir ’n moontlik koalisie met die ANC indien ’n dooiepunt in die 2024-verkiesings bereik word – maar net as pres. Cyril Ramaphosa steeds sy leier is”.

Die DA het die koerant intussen hieroor by die persombudsman verkla.

Steenhuisen het op The Inside Track gesê hy is dankbaar dat die DA hierdie debat in Suid-Afrika kon begin omdat sulke gesprekke in aanloop tot die komende plaaslike verkiesings moet begin.

“Ek is (in die onderhoud) gevra of ons met hulle (die ANC) sal saamwerk, en ek het gesê: ‘Ja, ons sal met hulle saamwerk.’ Maar om met hulle saam te werk beteken nie noodwendig ’n koalisie nie.

“Ek wil voorbeelde gee. Ons het reeds in die parlement ’n hand van vriendskap uitgereik na die president oor sy hervormingsagenda en ons het self ’n paar wetsontwerpe ter tafel gelê wat die president se hervormingsagenda sal ondersteun.

“En ons moet ’n werkende meerderheid vind om dit deurgevoer te kry. Ons sal oor partylyne heen moet saamwerk as ons suksesvol wil wees om van (adv.) Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), ontslae te raak.

“As ons almal net in klein stemblokke sit en nie gemeenskaplike terrein vind nie, sal sy voortgaan om die OB te wees en daar sal langtermynskade aan beide daardie kantoor en Suid-Afrika wees.”

Volgens Steenhuisen sal partye mekaar ook moet vind wat die nuwe wetsontwerp oor die staatsdiens betref om ’n bekwame en onafhanklike staatsdiens te kan bou, en sodoende “kaderontplooiing eens en vir altyd die rug toe te keer”.

Hy het bygevoeg dat dit alles vir partye met dieselfde waardes en beginsels in die parlement geleenthede is om saam te werk en vir individue in daardie partye om mekaar te vind.

*Lees meer later.


Meer oor:  Da  |  John Steenhuisen  |  Hervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.