Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Uitlewering van Guptas: SA verskerp pogings

Suid-Afrika gaan glo vandeesweek sy pogings verskerp om die omstrede Gupta-broers na die land terug te bring.

Die land hoop om die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) sover te kry om ’n uitleweringsverdrag en ’n regsooreenkoms tussen die twee lande te onderteken.

Ronald Lamola, minister van justisie, en Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, reis vandeesweek na die VAE om ’n konferensie van die Verenigde Nasies oor korrupsie by te woon.

Crispin Phiri, Lamola se woordvoerder, het Sondag bevestig die minister sal die konferensie bywoon. Suid-Afrika benader volgens hom die stryd teen korrupsie vanuit die oogpunt van sowel die staatsdiens as die wetstoepassingsowerhede.

Ronald Lamola
Ronald Lamola, minister van justisie. Foto: City Press

“Die reis na Dubai is sodat die minister samesprekings kan voer met sy VAE-eweknie. Dit is daarop gemik om die kwessies wat die Emirate daarvan weerhou om ’n regsooreenkoms en uitleweringsverdag te bekragtig, te probeer oplos.”

Sunday Times het Sondag berig Suid-Afrika is op ’n missie om die VAE te oorreed om die Guptas aan Suid-Afrika uit te lewer.

Phiri het Sondag op ’n vraag oor of dié stap daarop gemik is om die Guptas na Suid-Afrika te bring, gesê as verdrae onderteken word, “is dit nie met spesifieke individue in gedagte nie”.

“Ons behoort die ooreenkoms te gebruik om inligting te bekom en waar moontlik om te verseker dat die VAE voldoen aan wat Suid-Afrika van hom versoek en andersom,” het hy gesê.

Benewens Lamola en Mchunu bestaan Suid-Afrika se afvaardiging na die konferensie uit adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, adv. Hermione Cronje, hoof van die spesiale ondersoekdirektoraat in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), adv. Andy Mothibi, hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, en Robert McBride, hoof van die etiese eenheid in Mchunu se kantoor.

Batohi het in Oktober aan die parlement gesê Suid-Afrika ondervind probleme om wedersydse ooreenkomste tussen Indië en VAE opgestel te kry om dit moontlik te maak om vermeende sleutelrolspelers in staatskaping aan Suid-Afrika uit te lewer.

Hoewel Batohi nie die Guptas by die naam genoem het nie, is vroeër wyd berig dat die Guptas hulle tans in Indië en Dubai (in die VAE) bevind nadat hulle uit Suid-Afrika gevlug het.

Sy het tóé aan die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie gesê spesifieke probleme word ondervind met die regsooreenkomste wat Suid-Afrika na Indië en die VAE gestuur het. Suid-Afrika het “alles van sy kant” gedoen, maar die land “kry nie veel samewerking van die ander kant af nie”.

Nóg Mchunu nóg die NVG-woordvoerder kon Sondag vir kommentaar bereik word.

Meer oor:  Ronald Lamola  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.