Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Uitslae in wyksverkiesings ingewag

Politieke partye wag in spanning op die uitslae van die tussenverkiesings wat Woensdag gehou is.

Dit nadat nasionale leiers van die verskillende politieke partye nog tot laat Woensdagmiddag van die stemlokale in die 24 munisipale wyke in 17 munisipaliteite in al nege provinsies besoek het om daar kiesers vir oulaas aan te moedig om in die laaste tussenverkiesings vir die jaar vir hul onderskeie partye te stem.

Ace Magashule, ANC sekretaris-generaal en Mzwandile Masina, ANC-burgemeester van die Ekurhuleni-metro, was byvoorbeeld in wyke in dié metro besig om stemme te werf.

Marshall Dlamini, die EFF se sekretaris-generaal, is ook in dieselfde metro opgemerk waar hy ook nog stemme vir sy party gaan werf het.

Selfs Glen Mashinini, voorsitter van die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK), het Woensdag verskillende stemlokale in Ekurhuleni besoek om te verseker dat die tussenverkiesings, wat landwyd onder streng Covid-19-voorsorgmaatreëls plaasgevind het, glad verloop.

Kate Bapela, OVK-woordvoerder, het vroeër gesê dat sowat 77 kandidate aan die tussenverkiesings by 118 verskillende stemlokale in die 24 wyke deelgeneem het.

Die kandidate het 14 politieke partye verteenwoordig, maar deel daarvan was 18 onafhanklike kandidate.

Die sowat 171 829 kiesers wat gekwalifiseer het om in die tussenverkiesings te stem, het nog tot 21:00 Woensdagaand gehad om hul kruisies agter die kandidaat van hul keuse te gaan trek.

Dit nadat 3 088 mense Dinsdag ook spesiale stemme by hul huise en 3 067 by stemlokale in die betrokke wyke uitgebring het.

Twee van die wyke waar tussenverkiesings plaasgevind het was in die Oos-Kaap, twee in die Vrystaat, drie in Gauteng, een in KwaZulu-Natal, twee in Limpopo, vyf in Mpumalanga, een in Noordwes, twee in die Noord-Kaap en ses in die Wes-Kaap.

Woensdag se tussenverkiesings was slegs die tweede ronde tussenverkiesings wat vanjaar sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika gehou kon word.

Die vorige ronde was verlede maand toe sowat 95 tussenverkiesings op 11 November landwyd gehou was.

Vroeër is daaroor berig hoe die ANC in daardie verkiesings 64 wyke behou, twee verloor en ses nuwe wyke gewen het.

Dit terwyl die DA nege wyke verloor het, twee gewen en 14 behou het.

Die EFF kon toe geen wyk wen nie.

Die OVK gebruik ook hierdie tussenverkiesings as logistieke voorbereiding, veral ten opsigte van die Covid-19-pandemie, vir volgende jaar se plaaslike verkiesings.

Die (OVK) sal na verwagting Donderdag die uitslae amptelik bekend maak.

Meer oor:  Tussenverkiesings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.