Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Uitstel van kiesdag: OVK besluit watter hof om te vra

Die Verkiesingskommissie (OVK) se regspan sal bepaal tot watter hof – die verkiesingshof of die konstitusionele hof – die kommissie hom moet wend om toestemming te kry om die plaaslike verkiesing wat op 27 Oktober moes plaasvind, uit te stel.

Só het Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, Vrydagmiddag op ’n mediakonferensie in Centurion gesê waar die OVK aangekondig het hy het die voorstel van oud-adjunkhoofregter Dikgang Moseneke eenparig aanvaar dat die verkiesing uitgestel moet word.

Die Grondwet maak dit duidelik dat ’n verkiesing vir plaaslike regerings moet plaasvind binne 90 dae nadat dievorige raad se termyn verstryk het. Die huidige termyn verstryk op 3 Augustus.

“Ons senior advokate is tans besig om die saak te ondersoek by watter hof – die verkiesingshof of die konstitusionele hof – die OVK kan aansoek doen dat die verkiesing uitgestel word tot buite dié raamwerk wat die Grondwet bepaal,” het Mashinini gesê.

Moseneke het in opdrag van die OVK (wat deurentyd gesê het hy is tegnies gereed om met die verkiesing voort te gaan) ondersoek ingestel of die verkiesing in die lig van die Covid-19-pandemie veilig sal kan plaasvind en vry en regverdig sal kan wees soos die Grondwet bepaal. 

Die oudregter het ná wye konsultasie met verskeie rolspelers – van politieke partye tot wetenskaplikes en mediese kenners – bevind dit sal nie “redelik moontlik” wees om onder die huidige toestande ’n veilige, vrye en regverdige verkiesing te hou nie. Hy het voorgestel die verkiesing moet eerder uitgestel word, maar dit moet voor die einde van Februarie 2022 plaasvind. En dit mag net een keer uitgestel word.

’n Ander moontlikheid was om die Grondwet te verander. Moseneke meen egter dit is nie wenslik nie, terwyl die grondwetkenner prof. Pierre de Vos sê dit moet slegs as ’n laaste uitweg gedoen word omdat die Grondwet dan in die toekoms misbruik kan word om verkiesings uit te stel.Mashinini sê dit is nie nou al moontlik om te sê wanneer die verkiesing sal plaasvind nie.

Die eerste stap sal wees om by die hof toestemming te kry om dit buite die voorgestelde 90 dae van die Grondwet te doen.

Hy sê die OVK aanvaar Moseneke se siening dat groter immuniteit teen die koronavirus deur ’n massa-inentingsveldtog nodig is om ’n veilige, vrye en regverdige verkiesing te kan hou. 

Mashinini het aangekondig die registrasienaweek wat vir 31 Julie en 1 Augustus geoormerk is, word uitgestel tot ’n latere datum.Kiesers kan egter steeds voortgaan om aanlyn vir die verkiesing te registreer. 

Die OVK sal intussen in konsultasie tree met rolspelers soos politieke partye, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die parlement, die nasionale tesourie en die Suid-Afrikaanse Plaaslike-regeringsvereniging (Salga).

Die OVK maak moontlik ’n fout in sy aanname dat ’n volgende vlaag van Covid-19 in daardie tydperk sal uitbreek.

Die DA het in sy reaksie gesê sy standpunt is steeds dat hy nie ten gunste is van die uitstel van die verkiesing geheel en al “op grond van die dubbelsinnige bepalings van die Grondwet wat sê verkiesings moet gereeld, vry en regverdig wees” nie, het Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder, gesê.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê sy party is gekant teen die uitstel van die verkiesing. 

“Die OVK maak moontlik ’n fout in sy aanname dat ’n volgende vlaag van Covid-19 in daardie tydperk sal uitbreek.“

In teenstelling met die OVK se siening hieroor, is daar ander geloofwaardige projeksies wat toon dat die volgende vlaag nie rondom Oktober sal wees nie, maar teen middel Desember tot in Januarie aanstaande jaar.”

Groenewald sê hy sien gevaarligte flikker en dit kan ’n presedent skep as die hof sou toelaat dat sekere bepalings van die Grondwet nie uitgevoer word nie.

Die EFF het deurentyd volgehou hy kan onder die huidige omstandighede nie verkiesingsaamtrekke hou nie en dit sal tot sy nadeel wees.

Die ANC was ook ten gunste daarvan dat die verkiesing op 27 Oktober voortgaan.

Meer oor:  Plaaslike Verkiesing  |  Ovk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.