Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
UV ‘kanselleer’ gesprek oor ‘Gangster State’

Die skrywer en ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh sê hy sal “verseker” ’n plan B beraam om sy demokratiese regte uit te oefen, nadat die Universiteit van die Vrystaat (UV) besluit het om ’n praatjie oor sy boek Gangster State onbepaald uit te stel.

Pieter-Louis MyburghFoto: Jaco Marais

Die geleentheid sou volgende Donderdag op die universiteitskampus plaasgevind het, maar volgens Myburgh het die universiteit “die knie gebuig” nadat ’n groep vermoedelik ANC-ondersteuners gedreig het om dit met geweld te ontwrig.

Myburgh self het eers Woensdagmiddag gehoor dat die geleentheid van die baan is toe ’n joernalis van OFM hom om kommentaar genader het. Sy uitgewer is ook nie van die situasie bewus gemaak nie en geen sprake van ’n moontlike alternatiewe datum vir die praatjie is geopper nie.

“Hulle (die universiteit) probeer dit nou afmaak as ’n uitstelling, maar volgens my is dit ’n kansellasie,” sê Myburgh.

“Wat vir my baie interessant is, is dat dit wil voorkom asof die ANC in die Vrystaat, of ’n groep met bande na aan die ANC, egter deeglik bewus was hiervan.

“Dit is veral jammer dat só iets gebeur in ’n maand waarin ons wêreldwye mediavryheid vier. Ons is veronderstel om ’n land te wees waar die vryheid van die media die sterkste in ons stelsels ingebou is, maar dit blyk nie die geval te wees nie.

“Ek voel baie sterk daaroor dat Suid-Afrikaanse skrywers die reg het om praatjies te hou en dat die publiek die volste reg het om sulke gesprekke by te woon.

“Ons gaan beslis, net soos toe die V&A Waterfront in die Kaap besluit het om die boek se bekendstelling te kanselleer, ’n plan B beraam.”

Die Kaapse bekendstelling van Gangster State moes verlede maand op die nippertjie na die Primedia-kantore verskuif word nadat die sentrumbestuur Exclusive Books verbied het om die boekbekendstelling daar te hou.

Die besluit het gevolg op die chaos tydens die Johannesburgse bekendstelling, waar ondersteuners van Ace Magashule die geleentheid ontwrig het en selfs van die boeke in die boekwinkel opgeskeur het.

* Lacea Loader, die UV se direkteur vir kommunikasie en bemarking, kon nie Woensdag vir kommentaar bereik word nie. Die universiteit se kommentaar sal geplaas word sodra dit ontvang word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.