Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vaalrivier se geld is nou ‘weg’

Meer as R800 miljoen het “weggeraak” en dit is volgens die ouditeur-generaal (OG) een van die redes waarom die erg besoedelde Vaalrivier en ander ernstige omgewingsbesoedeling inwoners van Emfuleni in die Vaaldriehoek se gesondheid bedreig.

Een van die onwettige stortingsterreine tussen die woonbuurte Stefanopark en Bophelong. Foto: Elise Tempelhoff

Inwoners, werkers en diere in die gebied word boonop blootgestel aan gevaarlike stowwe omdat afval wat onwettig in woonbuurte, op leë erwe, langs strate en in waterryke gebiede gestort word die omgewing en die Vaalrivier besoedel, sê die OG in sy jongste verslag.

Dit dra ook by tot ernstige grond-, water- en lugbesoedeling.

Vanderbijlpark, Vaaloewer, Vereeniging, Sharpeville, ­Sebo­keng, Boipatong, Bophelong en Tshepiso is van die stede en dorpe in die gebied.

Luidens die verslag oortree Emfuleni al die afgelope drie jaar die Nasionale Omgewingsbestuurswet, asook die Wet op Nasionale Gesondheid en Veiligheid.

Dit is grootliks die gevolg van R872 446 370 wat “weggeraak” het.

Dié geld moes vir dienste en die instandhouding van infrastruktuur gebruik word, maar is onder meer bestee aan die toekenning van onregmatige kontrakte. Van dié kontrakte is toegeken aan mense wat in diens van die staat is, lui die verslag. In dié opsig oortree Emfuleni ook die Wet op Openbare Dienste.

In die verslag word ook 19 verdoemende bevindings teen Emfuleni se omgewingsdepartement gemaak.

Emfuleni het reeds waarskuwings van die Groen Skerpioene ontvang, maar die omgewing gaan net verder agteruit.
Gerda Senekal

Vullisverwydering het tot stilstand gekom en onwettige stortingsterreine het oral in en om woonbuurte ontstaan.

Die OG sê Emfuleni se inwoners word benadeel omdat die munisipaliteit “ander prioriteite” het as vullisverwydering en -bestuur en die instandhouding van water- en rioolinfrastruktuur. Ook word inligting waarop inwoners geregtig is van hulle weerhou.

Inwoners en werkers se blootstelling aan ’n besmette omgewing beteken dat Emfuleni ook die Wet op Nasionale Gesondheid en Veiligheid oortree.

Die OG waarsku in die verslag dat troeteldiere en gemeenskappe se vee in die rommelhope na kos soek en kan doodgaan wanneer hulle giftige afval inneem.

“Gemors en slegte reuke maak Emfuleni onooglik en dit het ’n negatiewe uitwerking op toerisme. Onwettige stortings op leë erwe en langs strate verlaag ook die waarde van inwoners se

eiendom. Onwettige stortings verstop stormwater- en riool­afvoerpype wat tot oorstromings in buurte lei.”

eiendom. Onwettige stortings verstop stormwater- en riool­afvoerpype wat tot oorstromings in buurte lei.”

Jacob Khawe, Emfuleni se burgemeester en Oupa Nkoane, die munisipale bestuurder.

Die OG sê Emfuleni se werkers by stortingsterreine het geen opleiding om met gevaarlike afvalstowwe te werk nie. Hulle het ook nie beskermende klere nie en kan allerlei siektes, veral respiratoriese probleme, opdoen.

Ingevolge bepalings oor luggehalte in die Nasionale Omgewingsbestuurswet is dit munisipaliteite se plig om luggehalte-amptenare aan te stel. Emfuleni het nie sulke amptenare nie en het ook nie planne om hulle aan te stel nie, het die OG bevind.

Water-en-elektrisiteitsrekeninge het luidens die verslag dikwels foutiewe lesings op wat tot dispute tussen die raad en inwoners lei. Dit lei tot verdere finansiële verliese vir Emfuleni.

Gerda Senekal, raadslid van die VF Plus, sê sy het Emfuleni vroeër vanjaar by die departement van omgewingsake se Groen Skerpioene verkla omdat hy die Nasionale Omgewingsbestuurswet oortree.

“Emfuleni het reeds waarskuwings van die Groen Skerpioene ontvang, maar die omgewing gaan net verder agteruit,” sê sy.

Emfuleni se opgehoopte skuld aan Rand Water beloop meer as R530 miljoen en dié aan Eskom meer as R900 miljoen.

  • Geen woordvoerder van Emfuleni was Woensdag vir kommentaar beskikbaar nie. Die Menseregtekommissie (MRK) stel ondersoek in na menseregteskendings wat verband hou met die ernstige besoedeling van die Vaalrivier. Sy sittings word begin November hervat.
Meer oor:  Vaalrivier  |  Gerda Senekal  |  Vaaldriehoek  |  Emfuleni  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.