Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vakbond wil kolonel Molefe verkla

Terwyl Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, geskeduleer is om Dinsdag voor die parlementêre ondersoek na staatskaping te getuig, beplan ’n vakbond om strafregtelike klagte teen hom in te dien.

Molefe en Zola Tsotsi, voormalige voorsitter van die Eskom-direksie, verskyn Dinsdag voor die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings wat die afgelope weke beweringe van staatskaping ondersoek.

Molefe – ’n lojalis van pres. Jacob Zuma – het verlede jaar as uitvoerende hoof van Eskom bedank nadat adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, hom in haar verslag oor staatskaping genoem het. Dit het uit haar verslag geblyk dat daar in ’n stadium meer as 50 oproepe tussen Molefe en Ajay Gupta gemaak is en dat hy 19 keer in die omgewing van die Guptas se huis in Saxonwold in Johannesburg was.

Die omstrede Gupta-familie is sentraal tot die beweringe van staatskaping.

Brian MolefeFoto: JAMES OATWAY

Adv. Pikkie Greeff van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu), het intussen gesê dat Molefe onregmatig as ’n kolonel in die weermag aangestel is en dat hy nie geregtig is om in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se reserwemag opgeroep te word vir aktiewe diens nie.

“Dit is teen die Verdedigingswet. Hy is nie ’n lid van die reserwemag nie. Hoe kan hy ’n lid van die reserwemag wees as hy geen militêre opleiding het nie? Selfs spesialiste is onderhewig aan die vereistes van die reserwemag,” het Greeff gesê.

Dít kom nadat Rapport berig het dat Molefe onbepaald opgeroep is vir aktiewe diens in die reserwemag. Dít terwyl reserwemaglede gewoonlik net drie maande op ’n slag vir aktiewe dienste gebruik word. Na berig word beloop sy salaris R57 000 per maand. Hy is ook ’n erekolonel van die Suid-Afrikaanse Ierse regiment, ’n deeltydse eenheid.

Siphiwe Dlamini, hoof van kommunikasie in die departement van verdediging, het Maandag in ’n verklaring uitgewys dat Molefe ’n lid van die reserwemag is sowel as ’n erekolonel in een van die reserwemag se regimente.

Sy aanstelling in die reserwemag dateer terug na die tyd toe hy die uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) was. “Hy het soos ander reserwemaglede die verpligte opleiding ondergaan.”

Die SANW het volgens hom in 1994 ’n spesiale dispensasie geskep wat daarop gemik was om die leiersgroep van die reserwemag te transformeer waarvolgens senior niestatutêre lede by die SANW geïnkorporeer is.

Molefe is volgens Dlamini in 2009 geïdentifiseer vir die poel van spesialiste en geoormerk om as ’n offisier in beheer van die ouditafdeling te dien, met die rang van kolonel.

“ ’n Aantal geoktrooieerde rekenmeesters is gelyktydig vir die poel gewerf en is onder hom aangestel om die inspekteur-generaal van die leër met verskeie take en opleiding in dié verband by te staan. Kol. Molefe het in dié kapasiteit ’n baie opbouende rol in die SANW gespeel. Hy word beskou as ’n lid van die reserwemag en word dienooreenkomstig vergoed,” lui Dlamini se verklaring.

Meer oor:  Brian Molefe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.