Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vakbonde dreig groot, sou staat lone besnoei

’n Moontlike besnoeiing van 10% aan die salarisse van staatsamptenare het die vakbonde die josie in, maar ’n ekonomiese kenner sê dis nie so ’n vergesogte idee nie. Ierland is in 2008 tot so ’n stap gedwing, sê prof. Jannie Rossouw, professor in ekonomie en hoof van die skool van ekonomie en sakewetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).

“Die staatsdiens se salarisse is al gelyk aan 45% van die regering se belasting-inkomste. Dit is totaal onhoudbaar,” sê Rossouw.

Die land se vakbonde dreig egter om die regering tot stilstand te bring as dié idee van Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die nasionale tesourie, verder gevoer word.

Mogajane het aan City Press,Rapport se susterkoerant, gesê dat die regering ’n tekort van R120 miljard moet vul weens die R59 miljard-hulppakket aan Eskom en die verwagte tekort in belastinginkomste vir die finansiële jaar wat op 20 Maart 2020 eindig.

‘Ek dink hy toets die water.’

“Die tesourie se geldkas is leeg. Die ekonomie groei nie en die belasting is nie genoeg nie. Die regering moet besteding verminder,” het Mogajane gesê.

Rossouw sê Ierland het ná die finan­siële krisis van 2008 dié land se salarisrekening met gemiddeld 19% verminder. Op senior vlakke is dit met 28% ingekort.

“Hulle het net geen keuse gehad nie. As die vakbonde hulle nie aan bande gaan lê met salaris-eise nie, gaan Suid-Afrika geen ander keuse hê as om dieselfde te doen nie.”

Volgens Rossouw is Suid-Afrika reeds in dieselfde dilemma as wat Ierland was.

“Ons tekort voor lenings gaan vanjaar 6% voor die BBP wees. Ons sal moet drastiese stappe instel. Suid-Afrika kan nie langer die staatsdiens se salarisrekening bekostig nie.”

Die grootste staatsdiensvakbond, Nehawu, bestempel Mogajane se uitlating as “onsinnig”. Nehawu sê Mogajane sal dié “opsie” dadelik moet laat vaar “as hy verstaan wat goed is vir homself en die regering”.

Voor hy opofferinge van staatsamptenare verwag, moet die tesourie aandui wat gedoen word met die bevindinge van die ouditeursverslag van 2017-’18 dat staatsamptenare nie behoorlike beheermaat­reëls toepas nie. Vermorste uitgawes is 200% meer, ongemagtigde besteding het gestyg met 68% en Eskom is onder die grootste sondaars.

“Nehawu sal nooit betrokke wees waar ’n vermindering van die inkomste van staatsamptenare bespreek word nie,” sê die Nehawu-sekretariaat.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die vakbonde het ’n kollektiewe salarisooreenkoms wat volgende jaar in sy derde jaar sal wees. Dit behels ’n verhoging van inflasie plus een persent.

“Ons sal nie toelaat dat die staat wegdoen met daardie ooreenkoms nie.”

“As die staat ’n 0%-verhoging wil opdwing of salarisse besnoei, kan die sektor ontwrigting verwag. Die staat moenie verwag enige vakbond sal onderhandel vir ’n verlaging in salarisse nie.”

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa, sê die voorstel is onlogies. Dis hoekom hulle geen ophef daarvan gemaak het nie.

“Ek dink hy toets die water. Naptosa verwerp die voorstel met minagting. As dit is oor wat by Eskom gebeur, moet daar met besnoeiings by die kragreus begin word.

Malehlohonolo Kasa, tesouriewoordvoerder, sê daar is geen besluit om amptenare se salarisse te verminder nie. “Die DG is aangehaal uit ’n onderhoud met City Press, waarin hy ’n voorbeeld genoem het van wat gedoen kan word om die regeringsbesteding te verminder. Dit was maar een van die voorbeelde.”

Meer oor:  Dondo Mogajane  |  Jannie Rossouw  |  Staatsamptenare  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.