Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vakbonde, organisasie vra vir minder belasting, geen beurtkrag

Belastingverligting vir individue en ondernemings, beëindig beurtkrag, staak reddingsboeie aan sukkelende staatsentiteite, sny die staat se enorme salarisrekening én belê meer in landbou om Suid-Afrika se ekonomiese herstel te bespoedig.

Dít was Dinsdag van die belangrikste raad wat politieke, arbeids-, landbou- en burgerlikesamelewingsorganisasies aan Tito Mboweni, minister van finansies, gegee het oor waarop hy Woensdag in sy uiters belangrike begrotingsrede moet fokus.

Die EFF meen egter daar is niks wat Mboweni en pres. Cyril Ramaphosa kan doen om Suid-Afrika uit die siklus van die huidige chroniese werkloosheidsvlakke te lei of op ’n pad van massiewe nywerheidsontwikkeling te plaas nie.

Tito MboweniFoto: Daily Sun

“Die land het ’n kollektiewe plan en die leiding van ’n demokratiese en korrupsievrye regering nodig, iets waarin die ANC nie in belang stel of voor bekwaam is nie. Suid-Afrikaners moet of die ANC verwyder of totale ekonomiese agteruitgang aanvaar,” sê Vuyani Pambo, EFF-woordvoerder.

Wouter Wessels, VF Plus-woordvoerder oor finansies, sê sy party wil Woensdag hoor dat belastingverligting aangekondig word vir individue en sakeondernemings om ekonomiese groei te stimuleer. “Private besteding moet ook gestimuleer word om groei te bewerkstellig, wat tot werkskepping sal lei.

“Wat die VF Plus nie wil sien nie, is enige verdere reddingsboeie aan staatsondernemings.”

Die party meen die staat se salarisrekening moet ook onder beheer gebring word, terwyl daadwerklike strukturele hervormings geprioritiseer moet word.

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê hulle verwerp enige verhoging van belasting, terwyl die regering aanhou om miljarde rande te vermors op verkwistende uitgawes en die plundering van staatshulpbronne onder die dekmantel van “noodverkryging” of “ekonomiese transformasie” miskyk.

Motebang Ralake, hoofsekretaris van die Numsa-geaffilieerde Social Revolutionary Workers-party, sê dat dienslewering in Suid-Afrika agteruit sal gaan as die begroting vir staatsdienste gesny en belasting vir die werkers- en middelklas verhoog word.

Dit is belangrik vir werkers om te verenig en saam te werk om ’n alternatiewe makro-ekonomiese raamwerk te eis wat daarop gemik is om in die basiese behoeftes van die mense te voorsien.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, het Dinsdag namens dié vakverbond gesê dat die jongste ronde beurtkrag ’n reeds slegte situasie in die land vererger het.

“Die regruk van Eskom moet geprioritiseer word.”

Cosatu meen beleggings in landelike gebiede en townships moet ook deur die begroting bevorder word, terwyl die administratiewe rompslomp vir kleiner ondernemings verminder moet word.

Cosatu ondersteun ook ten volle die nasionale staking wat die South African Federation of Trade Unions (Saftu) van Zwelinzima Vavi vir Woensdag teen die ekonomiese krisis in Suid-Afrika beplan.

“Dit is belangrik vir werkers om te verenig en saam te werk om ’n alternatiewe makro-ekonomiese raamwerk te eis wat daarop gemik is om in die basiese behoeftes van die mense te voorsien,” sê Pamla.

Kulani Siweya, ’n landbou-ekonoom by Agri SA, sê dat kredietgraderingsagentskappe en rolspelers in die finansiële mark ’n verbintenis tot fiskale konsolidasie wil sien en dat die fiskus wat reeds onder druk is ’n verdere afgradering moet vermy.

Volgens Siweya het die landbousektor ondanks talle uitdagings winsgewend gebly en moet dit beskerm word deur ’n gesonde beleidsraamwerk en die toepassing daarvan, maar ook deur gebruik te maak van die kundigheid van kommersiële boere in die waardeketting.

Henry Geldenhuys, TLU SA-president, sê as Mboweni se begroting geloofwaardig wil wees, moet hy onder meer staatsuitgawes besnoei, daadwerklike planne inwerking stel om staatskuld te verminder, salarisverhogings vir staatsamptenare verbied en infrastruktuur daarstel wat die ekonomie kan stimuleer.

Mark Weinberg, nasionale koördineerder van die Right2Know-veldtog, sê hulle verwerp ’n besparingsbegroting, maar ondersteun een wat die waardes en regte van die Grondwet sal verwesenlik.

Meer oor:  Vakbonde  |  Minder Belasting  |  Geen Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.