Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vakbonde wil hof toe oor Cosatu-plan

Een van die land se grootste staatsdiensvakbonde, met 210 000 lede, asook die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) dreig met regstappe om trustees van die staatsdienspen­sioenfonds te verwyder as hulle Cosatu se voorstel aanvaar om Eskom se skuld met pensioengeld te help delg.

Leon Gilbert, waarnemende hoofsekretaris van die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), en Chris Klopper, hoofsekretaris van die SAOU, wat 37 000 onderwysers as lede het, het Vrydag gesê Eskom kan nie eens die rente op sy skuld betaal nie en dat trustees van die staatsdienspensioenfonds (GEPF) wat Cosatu se voorstel steun, hul wetlike plig sal versaak om die belange van die fonds en sy lede te dien as hulle werkers se aftreegeld in Eskom sou stort.

Albei vakbonde is geaffilieer by Fedusa, wat Saterdag in Johannesburg ’n noodvergadering gehou het om die konsepooreenkoms te bespreek wat die afgelope week aanmekaar getimmer is om R254 miljard se pensioengeld in Eskom te belê.

Pravin: ‘Dis uitstekend’

Eskom het skuld van R454 miljard en kan eintlik net sowat R200 miljard bekostig. Daar is dus geen kans dat die R254 miljard deur Eskom terugbetaal sal kan word nie.

R254: Soveel miljard sal Eskom nie kan terugbetaal nie.

Die GEPF se jongste jaarverslag wys dat die fonds reeds bykans R84,4 miljard in Eskom-effekte besit en nog R500 miljoen in ander Eskom-skuldbriewe belê het. 18,7% van Eskom se skuldlas word dus reeds uit die pen­sioengeld van staatsamptenare voorgeskiet. Nog R67,3 miljard van die fonds is in ander staatsbeheerde ondernemings soos Transnet, Sanral en die Lughawensmaatskappy (Acsa) belê.

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag sy steun toegesê aan die konsepooreenkoms, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het dit ’n “uitstekende voorstel” genoem.

Cosatu se Tony Ehrenreich het gesê “as iets nie gedoen word om Eskom te red nie, is daar die risiko van ’n kredietafgradering en Eskom wat ineenstort”.

Ehrenreich sê werkers word nie benadeel nie, want die GEPF is ’n vastevoordelefonds en pensioene word dus deur die regering gewaarborg.

“As daar ’n tekort is wat die fonds nie kan dra nie, is die werkgewer onder die verpligting om die tekort aan te vul. Dit lyk duidelik na die mees bekostigbare plan. Daar is geen alternatief nie.”

Hy sê R254 miljard sal ’n belegging in Eskom wees.

“Daar moet opbrengste wees, al is dit nie dadelik nie. Die opbrengste moet deur die regering onderskryf word. Dis nie ’n blanko tjek nie. Die kontrakte vir steenkool en onafhanklike kragprodusente moet ondersoek en herbeding word. Dis gekoppel aan duidelike voorwaardes.

“Die geld moet aan die OBK terugbetaal word sodra Eskom in staat is om dit te doen.

“As hulle nie kan nie, moet die regering die verpligting opneem om die fonds terug te betaal.”

Cosatu: ‘Uhm, ons weet nie’

Matthew Parks, die parlementêre verteenwoordiger van Cosatu wat die plan uitgedink het, kon geen antwoorde verstrek oor hoe Eskom dit gaan bekostig om ’n opbrengs op die geld te betaal of ooit die kapitaal te delg nie.

“Dis vrae wat nog uitgewerk moet word. Die werklikheid is egter dat niemand se aftreegeld enigiets werd gaan wees as Eskom se deure moet sluit nie. Dis waaroor ons nou bekommerd moet wees,” het Parks Vrydag aan Rapport gesê.

Cosatu se voorwaardes vir die reddingsboei uit pensioengeld is dat Eskom geen poste besnoei nie, al het die Wêreldbank in 2016 bevind Eskom het 66% meer personeel as wat nodig is.

Selfs Jabu Mabuza, oud-Eskom-voorsitter, het erken dat Eskom sy arbeidsmag met minstens ’n derde moet verminder om kostedoeltreffend te wees. Hy is toe deur Ramaphosa en Gordhan gerepudieer en het verlede maand bedank.

Die VSA se Gilbert was Vrydag erg omgekrap. “Die GEPF is reeds oordadig blootgestel aan veral Eskom, maar ook aan ander staatsbeheerde ondernemings. Die raad van trustees het ook al in die verlede geluide gemaak oor sulke beleggings en beleggingsbesluite geneem waarvan die opbrengste nie gewaarborg is nie.

“Die trustees van ’n pen­sioenfonds word deur vakbonde benoem, maar wanneer hulle die aanstelling aanvaar, is hul wetlik verplig om in belang van die fonds en sy lede op te tree, pleks van die politieke wense van die vakbond of enige ander instellings na te kom.

“Ek wil nie onnodig met regstappe dreig nie, maar as hulle daardie plig versaak, sal ons optree,” het Gilbert gesê.

SAOU: ‘Ons sal trustees verwyder’

Klopper het Vrydag in ’n brief aan dr. Renosi Mokate, voorsitter van die GEPF se raad van trustees, gesê skuldverligting aan Eskom sal op ’n misdadige besluit neerkom en trustees van die GEPF blootstel aan regstappe om hulle te verwyder. “Ons wil ’n versekering van u hê dat die GEPF of die Openbare Beleggingskorporasie nie in staatsbeheerde ondernemings sal belê waar daar geen moontlikheid is van ’n markverwante opbrengs op die belegging nie,” het hy gesê.

Mokate het nie daarop geantwoord nie, maar Vrydagmiddag in ’n verklaring gesê die fonds het nog geen voorstel ontvang om Eskom se skuld te verlig nie.

“As so ’n voorstel ontvang word, sal dit op meriete oorweeg word in die belang van die fonds, sy lede, pen­sioentrekkers en hul begunstigdes,” het sy gesê.

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die onderwysersvakbond Naptosa, sê pensioengeld kan slegs belê word in staatsondernemings as daar “absolute waarborge” is dat geen geld verlore sal gaan nie.

“Jy kan jou voorstel as baie mense wil aftree, moet die pensioengeld beskikbaar wees. Maar ons stem ook saam dat daar geld in sekere instansies belê word. Maar ons moenie minder geld terugkry as wat ons in die ope mark sal kan kry nie.

“Dit kan dus nie wees dat ons geld in Eskom moet stort nie. Ons lede sal dit nooit aanvaar nie en derduisende staatsamptenare die josie in maak.”

Janina Slawski, beleggingshoof van Alexander Forbes, die land se grootste pensioenfondsadministrateur, sê die staat is verplig om die voordele te waarborg wat die fonds aan sy pen­sioentrekkers uitbetaal.

“As R254 miljard net geparkeer word en nie die opbrengs verdien wat nodig is om die fonds se verpligtinge na te kom nie, sal die staat – en dus die belastingbetaler – die verskil moet betaal.

“Op daardie manier is die plan eintlik net die staat wat aan homself uitstel gee vir sy toekomstige verpligtinge,” sê Slawski.

Roodt: ‘Hier kom ’n stroping’

Dawie Roodt, hoof-ekonoom van die Efficient Group, is bekommerd dat ’n lening aan Eskom die deur kan oopmaak vir verdere stroping van die fonds.

“As dit deurgaan, is die res van die pensioenfonds oop vir vergrype.”

Roodt sê die enigste rede hoekom Cosatu instem, is om die onvermydelike uit te stel en dit is dat ’n klomp mense by Eskom afgedank moet word.

“Nou gee hy sy lede se pensioenfondsgeld aan Eskom sodat die kragopwekker nie sy nodige strukturele aanpassings moet doen nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.