Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Valke het reg om dié Zuma-ondersoek te doen – kenner

Die hoof van die Valke het die bevoegdheid om te besluit om ’n saak soos dié wat teen oudpres. Jacob Zuma geopen is aan te neem vir ondersoek, omdat hy sonder toestemming uit ’n sitting van die Zondo-kommissie na staatskaping gestap het.

So sê prof. Rudolph Zinn, ’n polisiekundige van Unisa.

Dit volg nadat die Valke Dinsdag bevestig het dié eenheid ondersoek ’n klag van die oortreding van die Wet op Kommissies (1947) teen “ ’n belangrike getuie voor die Zondo-kommissie”.

Zuma se naam is glad nie genoem nie, maar dit is bekend dat Zuma verlede jaar, tot groot ontsteltenis van adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, sonder toestemming ’n sitting van die kommissie verlaat het.

Lt.kol. Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder, sê ’n strafregtelike klag is by die Hillbrow-polisiekantoor in Johannesburg ingedien en die saak is na die Valke verwys vir verdere ondersoek.

Zinn sê lede van die Valke het al die magte van die polisie en het nie soos die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ’n mandaat nodig nie.

“Dit is gewoonlik strategies beter om alle omvangryke of ‘prioriteitsake’ wat verband hou met ’n spesifieke persoon of geval, van die begin af deur een eenheid te laat ondersoek,” sê hy.

Dit is redelik algemeen dat ’n ondersoek teen iemand met ’n hoë profiel deur ’n spesialis-ondersoekeenheid gehanteer word – ongeag die erns van die oortreding.

“Dit verseker nie net kundigheid nie, maar ook opgewassenheid teen enige drukgroepe wat so ’n ondersoek kan probeer beïnvloed,” sê Zinn.

Die kommissaris van polisie het ook die bevoegdheid om enige saak na die Valke te verwys.

Nkwalase het gesê die “persoon van belang” is nog nie aangekla nie en het ook nog nie in die hof verskyn nie.

“Uit beginsel en uit respek vir die oppergesag van die reg kan ons nie enige verdere kommentaar lewer nie. Ons wil ook nie die naam noem van die persoon wat ondersoek word nie.”

Zuma wil hê Zondo moet hom as voorsitter onttrek. Sy redenasie was dat Zondo ’n belangebotsing het.

Zondo het later gelas daar moet strafregtelik teen die oudpresident opgetree word. Hy het ook geweier om as voorsitter te onttrek.

Die Zondo-kommissie het hom onlangs tot die konstitusionele hof gewend en dié hof gevra om Zuma te dwing om voor die kommissie te verskyn. Uitspraak is voorbehou.

Uit beginsel en uit respek vir die oppergesag van die reg kan ons nie enige verdere kommentaar lewer nie. Ons wil ook nie die naam noem van die persoon wat ondersoek word nie.

Zuma was veronderstel om vandeesweek weer voor die kommissie te verskyn, maar sy regsverteenwoordigers het die kommissie in kennis gestel Zuma sal dit nie doen voordat die konstitusionele hof ’n beslissing gemaak het nie.

Die kommissie het vroeër ’n brief op Zuma beteken wat lui hy is steeds verplig om te verskyn.

Meer oor:  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.