Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Valke moet verantwoording doen ná Jonas-skokke'

Die Valke moet steeds aanspreeklik gehou word ná Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, se skokonthulling dat dié elite-ondersoekeenheid bewerings wou toesmeer dat die Gupta-familie Jonas met R600 miljoen wou omkoop.

David Lewis, uitvoerende direkteur van Corruption Watch, het Vrydag só gesê ná Jonas se dramatiese getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg.

Lewis het bygevoeg dat Jonas se verdere onthulling dat die Guptas hom glo ook met die dood gedreig het toe hy hul aanbod om minister van finansies te word van die hand gewys het, wys ook hoe ver dié familie sou gaan om die staatskas te plunder.

Mcebisi Jonas. Foto: Deaan Vivier

Alex Mashilo, woordvoerder vir die SAKP wat Vrydag by die kommissiesitting betoog het, het ook onthul dat dié party skriftelik ’n beroep op die Valke sal doen om genl.maj. Zinhle Mnonopi, ’n senior Valke-ondersoeker, te skors. Sy wou Jonas glo oorreed om ’n vals verklaring te onderteken om die Valke-ondersoek teen die Guptas “dood te maak” omdat dit glo ’n “DA-kwessie” was.

Die SAKP meen ook die hele Valke-struktuur moet hersien word omdat dit staatskaping moet help bestry en nie “medepligtig daaraan wees nie”.

Jonas het Vrydag in sy getuienis voor adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, herhaal hoe ’n “luidrugtige en spoggende” Ajay Gupta op ’n vergadering op 23 Oktober 2015 by die Gupta-woonkompleks in Saxonwold, Johannesburg, waar die R600 miljoen-aanbod gemaak is, ook gespog het hoe die Guptas die Valke, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die nasionale intelligensie-agentskap beheer.

Ook hoe “die Ou Man”, in verwysing na oudpres. Jacob Zuma, “enigiets sal doen wat ons (die Guptas) hom sê om te doen”.

Jonas het ook onthul hoe Zuma en sy kabinet openlik vyandig teenoor die nasionale tesourie was omdat dit as ’n struikelblok beskou is om hul staatskapingsprojek van Eskom, Transnet en Denel uit te brei.

Volgens Jonas is Nhlanhla Nene, oudminister van finansies, juis deur Zuma op 9 Desember 2015 afgedank omdat hy geweier het om die omstrede en duur kernkragtransaksie met Rusland goed te keur.

Die Guptas wou hê Jonas moes Nene opvolg om hulle te help om tot R8 miljard se staatsgeld te plunder.

Lewis het Vrydag verder gesê hoewel die meeste van Jonas se getuienis reeds lank in die openbare domein is, is die onthullings oor die Valke veral kommerwekkend.

“Dit wys hoe die Valke vir lank reeds gekaap en deel van die politiek was. Hulle moet daarom rekenskap gee.”

Volgens hom moet die Guptas sowel as Duduzane Zuma, Zuma se seun, en die omstrede sakeman Fana Hlongwane ook deur die kommissie gedagvaar word om optrede verduidelik.

Levy Ndou, ’n politieke ontleder, het in reaksie gesê al Zuma se aanstellings in staatsinstelling moet nou weens Jonas se getuienis ondersoek word omdat mense klaarblyklik aangestel is om ’n spesifieke agenda te volg.

Intussen het Cope Vrydag gesê Jonas se getuienis is ’n bewys van hoe Zuma en die ANC Suid-Afrika verraai het en direk verantwoordelik is vir die huidige moeras van swaarkry waarin die land hom bevind.

Ralph Mathekga, nog ’n politieke ontleder, het gesê Jonas se plofbare getuienis het ook pres. Cyril Ramaphosa se pogings om die leierskapskrisis by staatsentiteite op te los, ’n “gevoelige slag” toegedien.

“Daar sal ’n mate van weerstand wees van diegene wat geïmpliseer word en wat steeds daar is.”

Intussen het brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, Vrydag gesê die Valke is erg bekommerd oor beweringe dat senior Valke-amptenare by staatskaping betrek word.

Volgens hom volg lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale Valke-hoof, die proses stiptelik en sal hy die nodige wette toepas.

Zondo het Vrydag ook gehoor dat regsverteenwoordigers van die mense wat Jonas met sy getuienis impliseer, ook die kommissie daaroor wil toespreek. Zondo hoor Maandag hierdie aansoek aan.

Jonas is ingelig dat hy weens hierdie en ander kwessies weer in die toekoms geroep sal word om te getuig.

Vytjie Mentor, ’n voormalige ANC-LP wat ook een van die aanvanklike fluitjieblasers oor die Guptas is, sal na verwagting Maandag getuig.

Intussen het Cope Vrydag gesê Jonas se getuienis is ’n bewys van hoe Zuma en die ANC Suid-Afrika verraai het en direk verantwoordelik is vir die huidige moeras van swaarkry waarin die land hom bevind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.