Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vasco da Gama sê sy skorsing is politiekery

Die geskorste voormalige speaker van die Johannesburg-metro, Vasco da Gama, het Vrydag teruggekap oor sy skorsing en dit “politieke windmakerigheid” genoem.

Lebogang Maile, Gautengse LUR vir plaaslike regering, het Donderdag aangekondig dat hy Da Gama en Katlego Mathebe, die speaker van Tshwane, onderskeidelik vir drie en ses maande sonder betaling skors. Albei is DA-raadslede.

Vasco da Gama. Foto: Argief

Maile het Da Gama daarvan beskuldig dat hy die etiese kode vir raadslede oortree het en gesê hy het nie sy grondwetlike pligte nagekom nie.

Dit het betrekking op twee raadsvergaderings verlede jaar wat onder Da Gama se voorsitterskap in duie gestort het. Die een was waar die ANC die leiding geneem het in ’n mosie van wantroue teen Herman Mashaba, voormalige burgemeester van Johannesburg. Die ander was toe Mashaba se opvolger in November verkies moes word nadat Mashaba bedank het.

“Dit is politieke windmakerigheid. Ek het nie die etiese kode vir raadslede oortree nie. Die raad was veronderstel om te vergader, maar daar kon nie eenstemmigheid bereik word oor wat as ’n meerderheid vir die raad beskou word nie. Ek het die vergadering na 4 en 5 Desember uitgestel om ’n uitvoerende burgemeester te kies, en dit is presies wat gebeur het,” het Da Gama gesê.

Maile het gesê hy het vir Da Gama die geleentheid gegee om skriftelik op die aantygings te reageer, wat hy van die hand gewys het. Da Gama se reaksie hierop is: “Ek het betyds gereageer.”

Die DA het nou sy regspan opdrag gegee om ’n dringende hofaansoek teen Maile vir politieke teistering in te dien.

Volgens Da Gama win die DA nou regsmenings in “en ons wag op reaksie van die LUR. Daarna gaan ons hof toe.”

Da Gama sê Mathebe was ook ’n onpartydige rolspeler in die uitgerekte dooiepunt tussen die ANC, EFF en die DA in die Tshwane-metroraad in eersgenoemde twee partye se pogings om van Stevens Mokgalapa, uitvoerende burgemeester wat nou op spesiale verlof is, ontslae te raak.

Maile het Vrydag nóg kole op die vuur gegooi en die DA daarvan beskuldig dat hulle ’n vergadering tussen die hoofswepe van al die partye in die wiele probeer ry.

“Dit is ’n goed beplande en doelbewuste skuif van die DA om die beplande vergadering, om eenstemmigheid te bereik oor die benadering hoe om die dooiepunt oor administratiewe en leierskapsprobleme op te los, te saboteer.”

Abel Tau, waarnemende Tshwane-burgemeester, se reaksie hierop is dat Maile dink dat hy bo die wet staan. “Ek weet nie op watter planeet hy bly nie. Dit is verbysterend dat hy so ’n aantyging maak. Ons probeer nie enige vergaderings in die wiele ry nie. Ons is deur en deur daarop gefokus om toesig oor dienslewering in die stad te hou,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.